Vermeende renosterhoringsmokkelaar in hof

Die renosterhorings wat gevind is (Foto: Verskaf)

ʼn 36-jarige man bly in aanhouding nadat hy Maandag in die Kempton Park-streekhof in Gauteng verskyn het op aanklag van die onwettige besit van renosterhoring.

Kelvin Chigwede is verlede week in hegtenis geneem nadat hy glo in Desember renosterhoring uit die land wou smokkel.

Kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, sê in Desember het die Valke in Germiston, die polisie in Benoni en Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) inligting opgevolg rakende ʼn krat hoendervoer in ʼn pakhuis in Kempton Park wat na Kuala Lumpur in Maleisië uitgevoer moet word.

Owerhede het op die pakhuis toegeslaan en die besending begin deursoek en op altesaam 17 renosterhorings van verskillende grootte beslag gelê. Die horings het altesaam 72,4 kg geweeg.

Die horings is in ‘n krat hoendervoer gevind (Foto: Verskaf)

“Die besending was daardie selfde dag by die pakhuis afgelaai. Die smokkelaar se planne om dit uit die land te smokkel, is egter deur die owerhede in die wiele gery,” vertel Mulamu.

Owerhede het Saterdag met ʼn lasbrief ʼn woning in Benoni deurgesoek en op ongeveer ʼn halfmiljoen rand se kontant afgekom.

“Die polisie het daarop beslag gelê vir ondersoekdoeleindes, aangesien dit vermoedelik die opbrengs van onwettige transaksies is.”

Chigwede is terstond in hegtenis geneem en aangekla van die onwettige handel in renosterhoring en die oortreding van die Nasionale Omgewingsbestuur en Biodiversiteitwet (Nemba).

Die saak is tot 26 Januarie uitgestel wanneer die beskuldigde formeel om borgtog aansoek sal doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harry ·

Dis weer bewyse van die goeie werk wat sekere polisie eenhede verrig. Dankie.

Deon ·

Ek hoop daardie 1/2 Miljoen Rand kon dit darem tot by die Polisie Stasie maak of was dit nou net ‘n Halwe Rand wat ingehandig is?

Sonneblomkind ·

Goeie werk en dankie vir die Beamptes wat so awesome saam werk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.