Vermeende rowers in die hof

(Argieffoto: Kent Williamson)

Vier persone het Woensdag in die landdroshof in Schweizer-Reneke in Noordwes verskyn ná ʼn 41-jarige opsigter op ʼn plaas in die omgewing oorval is.

Kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, het gesê die persone is Maandag met die hulp van boere en lede van die gemeenskap aangekeer.

Tshepo Mabankwe (18), France Motsaathebe (32) en Boitumelo Martin Motswamere (27) is in Wolmaransstad in hegtenis geneem op aanklag van huisroof. Hulle bly in aanhouding tot hulle volgende hofverskyning op 26 Oktober.

ʼn 15-jarige verdagte het in ooreenstemming met die Wet op Kindergeregtigheid in die hof verskyn en is in die sorg van sy ouers vrygelaat.

Die opsigter was Sondagaand alleen op die plaas, geleë tussen Schweizer-Reneke en Wolmaransstad, toe agt persone hom oorval en hom in ʼn houer vasgemaak het. “Die verdagtes het meubels en gereedskap, ter waarde van R100 000, op ʼn sleepwa gelaai en weggery. Die voorval het tussen Sondagaand en Maandagoggend vroeg plaasgevind.”

Ná die opsigter homself bevry het, kon hy hulp by die bure gaan soek en die polisie en nabygeleë boere is in kennis gestel.

“Boere het die trekker en sleepwa opgemerk. Die verdagtes het die trekker langs die pad gelos en gevlug. Lede van die gemeenskap van Wolmaransstad het later dieselfde dag gehelp om drie van die verdagtes, insluitend die minderjarige, voor te keer en het hulle aan die polisie oorgegee.”

Genl.maj. Suzette Pretorius, distrikskommissaris, het die lede van die gemeenskap bedank vir die rol wat hulle gespeel het om die beskuldigdes aan te keer. Sy het benadruk hoe belangrik die betrokkenheid van die publiek is in die stryd teen misdaad en dat die polisie hard moet werk om seker te maak oortreders word vervolg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Sien die anc en eff lede begin al vroeg op 15 misdaad pleeg. Vergeet skool, dit is vir dom mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.