Vermeende vakansie-swendelaar môre weer in hof

Francois Swart van Priority Escapes (Foto verskaf deur AfriForum)

Francois Swart, die besturende direkteur van die reisagentskap Priority Escapes, wat na bewering verskeie voornemende vakansiegangers uit honderdduisende rand geswendel het, verskyn weer Vrydag in die landroshof op Modimolle.

Swart is einde verlede jaar in hegtenis geneem, maande nadat strafregtelike klagtes teen hom aanhangig gemaak is.

Maroela Media het vroeër berig ʼn lasbrief is vroeg in Desember uitgereik nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid ingegryp het.

Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig twee klaers wat in Augustus verlede jaar ’n strafregtelike klag teen Swart by die Modimolle-polisiestasie ingedien het.

Swart het op 28 Desember vir die eerste keer in die Modimolle-landdroshof verskyn.

Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die eenheid is sedert die begin van die jaar oorval met versoeke om hulp van mense wat beweer Swart het hulle óók bedrieg.

Klaers het sedertdien ’n WhatsApp-groep geskep om op hoogte te bly van verwikkelinge in die ondersoek. Lede van die groep kla dat hulle nie voldoende terugvoer kry nie en is ontevrede oor die vordering met die ondersoek.

Die privaatvervolgingseenheid het intussen ’n skrywe aan die Valke gerig met vrae oor ernstige bewerings wat op die groep geopper is.

Daar word verwag dat baie van die klaers more se hofverskyning sal bywoon.

Swart is tans uit op borgtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.