Vermoorde Kaapstad-egpaar: Internasionale terreurkenner sal getuig

Nick Bailey saam met Rodney (73) en Rachel Saunders (64) (Foto: Twitter via @nickbailey365)

ʼn Hof in Verulam, KwaZulu-Natal, het Woensdag gehoor die staat sal die dienste van ʼn internasionale kenner oor terreur bekom in die saak van die vermoorde plantkundiges, Rodney en Rachel Saunders.

Staatsadvokaat Adele Barnard het aan die Verulam-familiehof gesê die staat versoek uitstel tot Mei 2019 om die dienste van dr. Florence Gaub, wat in die Verenigde Koninkryk gebaseer is, te finaliseer. Gaub sal verslag doen oor terreur en digitale lêers, wat in die beskuldigde se besit gevind is.

Die uitstel is ook nodig om ʼn voorlopige akte van beskuldiging op die beskuldigde te bedien. Barnard is egter nie seker of ʼn kennisgewing van die hofsaak saam met die akte uitgereik sal word nie. “Ek kan die hof in kennis stel dat die ondersoek in die saak vorder,” het sy gesê.

Versoeke van die regerings van Somalië en Nederland onder die Wet op Onderlinge Regsbystand is gefinaliseer en die staat wag op bewyse om teruggestuur te word. Afhangend van wat die staat ontvang, kan bykomende klagtes moontlik volg, het sy bygevoeg.

Fatima Patel (27) en Sayefudeen Del Vecchio (38) wat onder Islamiese reg getroud is, tesame met die Malawiër Ahmad Mussa (36), staan tereg op aanklagte van ontvoering, roof met verswarende omstandighede, diefstal, oortreding van die land se terreurwet en twee aanklagte van moord nadat die Saunders-egpaar in Februarie ontvoer en vermoor is.

Rodney en Rachel, wat gesamentlik Britse en Suid-Afrikaanse burgerreg gehad het, het tussen 10 en 15 Februarie in die Vryheid-omgewing verdwyn. Hulle was vermoedelik op soek na seldsame plante.

Sayefudeen del Vecchio buite die Verulam-landdroshof. Foto: ANA

Beamptes het tydens twee soektogte by Del Vecchio en Patel se huis afgekom op verskeie goedere wat met Rachel se bankkaart aangekoop is met ooreenstemmende strokies in Patel se handsak.

Die egpaar se GPS-toestel is ook gevind, tesame met digitale kommunikasie tussen Mussa, Patel en Del Vecchio wat wys dat hulle saamgewerk het.

Beamptes het ook beslag gelê op Del Vecchio se broek wat met bloed bevlek was. Daar is bevestig dit was Rodney Saunders se bloed.

Del Vecchio het glo ook iemand via die sosialemedianetwerk Telegram raad gegee oor hoe om ʼn bom te maak en Patel het na bewering ʼn 15-jarige tiener gehelp “om in April 2015 by Isis aan te sluit”. Die paar het glo ook ʼn Isis-vlag in hul besit gehad.

In ʼn beëdigde verklaring wat die hoofondersoekbeampte ingedien het, het dit aan die lig gekom dat Mussa aan owerhede gesê het Patel het hom wakker gemaak om Del Vecchio te help om die vermoorde egpaar se liggame by die Tugelarivier-brug af te gooi.

Mondli Mthethwa, vir die beskuldigdes, het Woensdag gesê as nog ʼn uitstel toegestaan word, sal sy kliënte al meer as ʼn jaar lank in aanhouding wees en daar is geen waarborg dat die akte van beskuldiging in Mei bedien sal word nie. Hy voer aan Del Vecchio word deur beamptes van korrektiewe dienste geteister en hy is aangerand, omdat sy aanvallers gedink het hy is ʼn terroris.

Barnard voer aan die uitstel is nie onredelik nie, omdat ʼn analis steeds werk aan die selfoonkartering en digitale bewyse aan die staat se kenner gestuur moet word.

Sy het aan die hof gesê “materiaal waar kinders seksueel uitgebuit word” is op elektroniese toestelle van die beskuldigdes bevind en verdere aanklagte sal volg.

Die saak is tot 7 Mei uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor Rodney en Rachel Saunders op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Piet Pompies ·

Daar word beweer dat Isis ‘n gevestigde dwelm netwerk bedryf in Mosambiek, die dwelms is bestem vir SA en ander lande. Die winste daaruit word gebruik vir terrorisme en omkoop van Mosambiek regerings beamptes. KZN is een van die dwelm roetes.

John ·

Selfs in The Darling of the World word terreurgroepe deesdae gevind… ons sluit natuurlik die ANC uit want dit was toe altyd die redder-van-die-planeet soos ons wel weet. Hulle kos ons nou wel triljoene in die proses maar not to worry…. Human rights… die password van die millennium.

Nonsens ·

As jy mooi na die artikel kyk het dit NIKS met TERREUR te doen nie, .. die ou was dalk ‘n lid van ‘n terreur groep maar hy is niks anders as ‘ n DIEF en MOORDENAAR nie. Hulle het gesien die mense het geld en duur toerusting en hulle daarom vermoor en beroof .. TERRORISME het geen rol hier gespeel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.