Vermoorde polisieman het nie in ‘af dag’ geglo

Michael Jameson. (Foto: Verskaf)

Vir wyle AO Michael Jameson (52) was dit ʼn voorreg om sy gemeenskap te dien. Hy het ook geglo dat ʼn polisieman nooit werklik van diens af is nie.

Só het Steven King, uitvoerende hoof van die organisasie SA Community Crime Watch, Donderdag aan Maroela Media gesê.

Jameson is Woensdag buite sy dogter se skool, Camelot College, in Umbilo in Durban doodgeskiet nadat hy gereageer het op ʼn kaping wat ontvou het. Hy was nie ten tyde van die voorval aan diens nie, maar het homself onmiddellik beskikbaar gestel om te help.

Volgens King is dít wie Jameson in murg en been was. Hy het Jameson sowat drie jaar gelede ontmoet en dikwels saam met hom gewerk om misdaad te bekamp.

“As polisieman was hy uiters toegewyd. Hy het nooit gehuiwer om ondersteuning of raad aan ons te bied nie. Hy het ook altyd gesê ‘ʼn polisieman is nooit werklik van diens af nie’.

“Hy was nie ten tyde van die voorval amptelik aan diens nie, maar steeds het hy gevoel dis sy plig om in te gryp en die gemeenskap te help. Op die ou einde het hy die duurste prys daarvoor betaal.”

King sê Jameson het dit as ʼn voorreg beskou om sy gemeenskap te dien.

“Dis ook hoe ons hom as mens geken het. Hy sou nooit van sy verantwoordelikhede wegskram nie.”

King beskryf Jameson voorts as ʼn vrolike, briljante mens.

“Ons sou gereeld oor allerlei dinge skerts. Ek het hom nooit as ʼn kwaai mens beleef nie.”

King sê Jameson was ook ʼn getroue familieman wat baie lief vir sy gesin was.

Die polisie is in dié stadium nog na die verdagtes in Jameson se skietdood op soek.

Twee voertuie, waaronder ʼn voertuig wat buite die skool in Umbilo gekaap is en nog ʼn voertuig wat deur die verdagtes in Hammarsdale gekaap is, is verlate gevind. Volgens Mathe was die verdagtes met albei voertuie in ongelukke betrokke terwyl hulle inhegtenisneming ontduik het.

Die polisie het Woensdag gesê hulle span alle hulpbronne in om die skuldiges vas te trek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan David ·

Rus in vrede Michael, mag die Vader sy hand oor jou geliefdes hou.

Sandra ·

Baie hartseer om te hoor dat ‘n polisieman wat van diens af is, so dienend was om te voel dat dit sy plig is om te help. Suid Afrika het meer van hulle nodig. R I V.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.