Verskeie kampe in Krugerwildtuin oop ná oorstromings

Krokodilrivier (Foto: We Are South Africans/Facebook)

SANParke het Dinsdag sommige kampe in die Krugerwildtuin oopgestel nadat dit byna twee weke lank ontoeganklik was weens oorstromings.

Oscar Mthimkhulu, uitvoerende bestuurder van die Krugerwildtuin, het bevestig dat die Krokodilbrug-, Onder-Sabie- en Talamati-kamp weer vir die publiek oopgestel is.

“Die watervlak het genoegsaam gesak vir ons om twee ruskampe en ʼn boskamp met gerustheid oor besoekers se veiligheid oop te maak,” sê hy.

Toegang tot Onder-Sabie sal wel slegs deur die Krokodilbrugkamp verkry moet word aangesien die pad na Skukuza steeds ontoeganklik is.

Die Talamati-boskamp kan ook slegs deur Orpen met die S140 bereik word of van Satara met die S36 die S145.

Verskeie grondpaaie in die gebied is steeds gesluit aangesien die veiligheid van dié paaie nog bepaal moet word.

Intussen bly die Biyamiti-boskamp en die Sable-dam-skuiling tot verdere kennisgewing gesluit.

Verskeie kampe, paaie en brûe in die wildtuin is oorstroom toe ʼn stormbui op 8 Februarie uitgesak het. Hoewel dele van die wildtuin steeds toeganklik was, moes talle vakansiegangers hul planne inderhaas verander weens die oorstromings.

“Die Krugerwildtuin se tegniese dienste is steeds besig om die omvang van die skade, wat deur die oorstromings veroorsaak is, te bepaal,” sê Mthimkhulu.

“Toeriste en toeroperateurs word steeds gemaan om nie versperrings wat aandui dat sommige van die grondpaaie gesluit is, te verwyder nie. Dit is daar geplaas vir almal se veiligheid.”

SANParke verwag dat die reën grotendeels vandeesweek sal opklaar, waarna reën na verwagting weer teen die naweek in die noorde van die wildtuin sal uitsak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Carel ·

Vir hoe lank “oop” ?? Orkaan Freddy gaan die Wildtuin binne etlike dae “bespring”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.