Foto’s: Paaie in wildtuin gesluit weens stormbui

Brug oor die Krokodilrivier Donderdagoggend. (Foto: Facebook/ SANParks Kruger National Park)

Talle besoekers wat Donderdagoggend by die Kruger Nasionale Park wou aanklop, moes weens swaar reën hul planne uitstel.

Toegang tot die park was teen Donderdagmiddag steeds beperk en verskeie paaie is gesluit nadat ʼn stortbui Woensdagaand oor die park neergesak het.

Volgens ʼn verklaring van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) is die Krokodilbrug- en Malelane-hek ontoeganklik weens die oorstromings. Die Krokodilrivier en verskeie brûe in die park loop tans oor.

SANParke het toeriste versoek om grondpaaie en laagwaterbrûe te vermy.

“Die reënvoorspelling vir Donderdag bly hoog en toeriste moet te alle tye verantwoordelik en waaksaam optree.”

Manus en Jeanette Steyn is van die besoekers wat Donderdagoggend hul naweekplanne weens die reën moes uitstel.

“Toe ons sien dat swaar reën Woensdagaand oor Berg en Dal neersak, het ons besef ons sal nie kan kampeer nie en moes inderhaas ander planne maak,” sê die egpaar. Jeanette sou haar 60ste verjaarsdag saam met familie vier.

“Ek dink al die kampeerders het dieselfde idee gehad – om eerder ʼn chalet vir die naweek te kry – want toe ons wou bespreek, was al die chalets reeds vol.

“Dit is egter deel van die lewe en ons gaan nie toelaat dat dit ons onderkry nie. Die reën is nodig vir die natuur en ons het gelukkig reeds ʼn ander datum gekry wat almal pas.”

Volgens SANParke sal besoekers wat hul besprekings weens die vloede moes uitstel, die geleentheid gegun word om die datums aan te pas.

Onder-Sabie (Foto: Facebook/ SANParks Kruger National Park)

Die Sabie-rivier by Skukuza (Foto: Facebook/ SANParks Kruger National Park)

Buckler’s Lodge langs die Krokodilriver. (Foto: Facebook/ SANParks Kruger National Park)

Brug oor die Krokodilrivier Donderdagoggend. (Foto: Facebook/ SANParks Kruger National Park)

Brug by Malelane-hek. (Foto: Facebook/ SANParks Kruger National Park)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eugene ·

Ons dank die here vir die reen, Al is daar vloede en oorstromings.

Hayntjie ·

Pragtige artikel. Ek is bly julle.is weer aanlyn. Mag alles nou weer voorspoedig gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.