Verskeie KZN-strande gesluit

Argieffoto (Foto: Liesel Muhl/Pixabay)

Die eThekwini-munisipaliteit het verskeie strande in Durban gesluit weens ʼn voortgesette kommer oor die gehalte van die seewater.

ActionSA het vroeër kommer uitgespreek het oor die integriteit van toetse van E. Coli-vlakke deur die munisipaliteit, omdat dit in skrille kontras was met dié deur ʼn onafhanklike laboratorium.

Alan Beesley, ActionSA se koukuslid in die munisipaliteit, het die besluit om die strande te sluit, verwelkom. “Die munisipaliteit het onlangs E. coli-vlakke aangeteken van net onder aanvaarbare vlakke. ʼn Onafhanklike laboratorium het ʼn dag later egter E. coli-vlakke van vyf keer hoër as kritieke vlakke aangedui.”

Ondanks die kritieke vlakke wat deur die onafhanklike laboratorium aangemeld is, het Durban se strande oop gebly en die gevaar en lewens van inwoners, toeriste en werknemers is in gevaar gestel, voeg Beesley by. “Die vlakke van besoedeling hou ook ʼn bedreiging in vir die omgewing en mariene lewe.”

Die munisipaliteit het teen Vrydagaand bevestig dat die besluit geneem is om sommige strande met onmiddellike effek te sluit ná die jongste toetse. “Die watergehalte voldoen nie aan aanvaarbare standaarde nie,” het die munisipaliteit in ʼn verklaring gesê.

Die volgende strande word gesluit: Brighton, Ansteys, Point, Ushaka, Addington, South, Wedge, North, Bay of Plenty, Battery, Country Club Thekwini, Laguna, Baggies en Reunion. Alle water-aktiwiteite word by dié strande verbied.

Umhlanga-hoofstrand; Umdloti; Westbrooke en Bronze-strande in die noordelike streek bly ook gesluit.

Strande wat oop bly, sluit in Toti, Pipeline, Warner, Winklespruit; en Umgababa-strande.

“Die munisipaliteit sal gereeld die watergehalte bly toets en kragtens dié uitslae optree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christine ·

Die ANC laat als agteruitgaan. FW moes nooit hierdie pragtige, vooruitstrewende land net so op ‘n silwer skinkbord aan die terroriste-organisasie oorhandig het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.