Verskeie polisiestasies weens Covid-19 gesluit

(Foto: SA Polisie)

Verskeie polisiestasies landwyd is vir eers gesluit nadat beamptes van dié stasies positief vir Covid-19 getoets het. Die meeste van dié stasies is in die Oos-Kaap.

Luidens verklarings uitgereik deur die polisie, is die polisiestasies in Bhisho, King William’s Town, Willowvale, die Kinkelbos-stasie in Port Elizabeth asook die Zwide- en Motherwell-stasies in Nelson Mandelabaai in die Oos-Kaap gesluit nadat positiewe gevalle by dié stasies aangemeld is.

Die Sunnyside-polisiestasie in Pretoria in Gauteng moes ook sluit nadat ’n polisielid positief vir Covid-19 getoets het.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê die dienssentrums van die onderskeie stasies se werksaamhede sal vir eers voortgesit word in ander lokale.

In Willowvale sal werksaamhede in die Willowvale-stadsaal voortgesit word, terwyl die Kinkelbos-dienssentrum vanuit die slagoffer-ondersteuningsentrum op dieselfde perseel voortgesit gaan word.

Kapt. Khaya Tonjeni, polisiewoordvoerder van die Oos-Kaap, het aangedui dat die King William’s Town-polisiestasie se dienssentrum se werksaamhede voortgesit gaan word in die saal op die perseel waar mense gewoonlik verklarings aflê. In Bhisho sal die stasie se dienssentrum in die ou polisiestasie se gebou bedryf word.

Dié onderskeie polisiestasies gaan deeglik ontsmet word voor die geboue weer heropen word. Die publiek sal in kennis gestel word wanneer die stasies weer ten volle in bedryf is.

Naidoo en Tonjeni versoek die publiek om die 10111-noodnommer vir enige noodgevalle of klagtes te kontak omdat die onderskeie stasies se telefoonnommers nie in dié stadium werk nie.

Gereelde nakomingsbesoeke word weekliks by alle SAPD-persele gedoen, insluitend polisiestasies, om seker te maak dat alle SAPD-lede die nodige persoonlike beskermende toerusting (PPE) het.

Meer as 370 polisiebeamptes het reeds positief vir Covid-19 getoets, met die meeste gevalle in die Wes-Kaap. Minstens 55 beamptes het reeds van die virus herstel.

Maroela Media het net voor die naweek berig twee polisiebeamptes, een in KwaZulu-Natal en een van die Oos-Kaap, is dood nadat hulle die Covid-19-virus opgedoen het.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het dié twee beamptes as “dapper” en “ʼn voorbeeld vir ander” beskryf wat “lede wat die Suid-Afrikaanse publiek met absolute sorg gedien en beskerm het”.

Naidoo sê die SAPD-bestuur wil die publiek om verskoning vra vir enige ongerief wat die sluit van dié polisiestasies kan veroorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fedup ·

Where are you mad hatter? You are suppose to look after your children. Who’s fault will the infection of the police officer be? Wake up and smell the wallnuts.

marius ·

Die wetenskaplikes wat aanvoer dat die regering se uitvoering op grond van hulle advies , so fantasties was , kan die plekke gaan beman .

Mariska Freitag ·

Die polisie stasie op Brits in die Noordwes was verlede week ook gesluit weens ‘n offisier dame wat die Virus opgedoen het. Tente was opgeslaan om die werk te doen terwyl die stasie skoongemaak was. Dit was binne enkele dae weer oop. My vraag: hoekom hierdie afsondering en kwarantyn periodes as dit duidelik nie nodig is nie??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.