Verslae, verlam ná glykabel-ongeluk

Die Cronje-familie van links: Dihan, Jaco, Janco, Merenthia en Luhandré (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

“Vrae maal in my kop oor daardie dag, terwyl ek weer die doel in die lewe moet vind. Ek bid vir ʼn wonderwerk en hou vas aan die kleinste sprankie hoop …”

Daar is trane in Merenthia Cronje (32) van Secunda se oë terwyl sy vertel hoe haar lewe onherroeplik ná ʼn glykabel-ongeluk verander het.

Merenthia en haar man, Jaco (37), hul kinders, Dihan (5), Janco (5) en Luhandré (3), en haar ma, Magda de Lange (49), het op 26 Desember verlede jaar by Tsitsikamma Falls in die Oos-Kaap die glykabel gaan aandurf toe een van die kabels vir Merenthia en Jaco getref het.

Merenthia se rugsenuwees is tydens die ongeluk afgesny, wat haar van die middellyf af verlam gelaat het. Dié aktiewe ma en beroepsvrou, wat in die buitelug floreer het, sê sy moet nou vrede maak daarmee dat sy vir die res van haar lewe aan ʼn rolstoel gekluister gaan wees.

Tussendeur die emosies moet dié gesin ook finansieel kop bo water probeer hou. Die mediese rekeninge hoop op.

Hulle het intussen uit desperaatheid ʼn skadevergoedingseis teen Tsitsikamma Falls ingestel en beweer die plek het steeds geen aanspreeklikheid vir die ongeluk aanvaar nie. Hulle het ook die saak by die toerismeraad in die Oos-Kaap aangemeld.

Die egpaar sê hulle het met die regsproses begin om te verhoed dat dieselfde met iemand anders gebeur.

‘Kabels foutief’

Die gesin het ʼn week voor Kersfees vir De Lange in Jeffreysbaai gaan kuier. Merenthia beskryf hul vakansie voor die ongeluk as ʼn “avontuur”. Sy het onder meer vir die eerste keer in haar lewe ʼn brugreksprong gedoen.

Die Cronje-gesin en De Lange het die dag ná Kersfees die glykabel gaan aandurf. Dáár het hul pretvakansie in ʼn nagmerrie ontaard.

By die glykabelspoor is daar drie kabels wat parallel langs mekaar loop en Merenthia, Jaco en De Lange het besluit om gelyktydig daarmee af te gly. Elke volwassene het ʼn seun op hul skoot gehou: Merenthia vir Janco en Jaco vir Luhandré.

Merenthia vertel met trane in haar oë van die glykabel-ongeluk (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

De Lange het eerste afgegly, met Janco se tweelingboetie, Dihan, op haar skoot. Merenthia het daarna gegaan en Jaco was kort op haar hakke.

“Net voor ek gegaan het, het ek opgemerk die kabels lyk effens pap. Ek het die personeel gevra of die kabels reg is,” vertel Jaco.

Hy verduidelik daar was ʼn vierde kabel, wat dwars in die middel van die hele glystelsel – tussen die twee platforms – onder die drie parallelle kabels gespan was. Hy sê volgens sy skatting was dié kabel té naby aan die drie parallelle kabels gespan.

“Ek het afgegaan en opgemerk ons beweeg te naby aan die dwarskabel en dat ons dit moontlik gaan tref. Ek het in daardie stadium vir Merenthia verbygeneem en my bene het die dwarskabel eerste getref. Ek het vir Merenthia geskree om haar bene op te lig, maar dit was te laat. Nadat die dwarskabel my bene getref het, het dit in die lug opgeskiet en teen die tyd dat Merenthia die kabel bereik het, het dit haar teen die rug en kop getref.”

Merenthia vertel sy het die slae van die kabel gevoel, waarna sy en Janco in die lug tot stilstand gekom het.

“Janco het begin huil en ek het hom styf in my arms vasgehou en verseker dat hy veilig is. Ek was tóé nog by my volle bewussyn … Die volgende oomblik het my nek swaar geword en ek het flou geword.”

Merenthia sê haar tyd in die hospitaal is een groot blur (Foto: Verskaf)

Jaco het ʼn entjie vanaf die dwarskabel ook vasgehaak. Hy het omgekyk en Merenthia bewusteloos in die lug sien hang. Hy het vir die personeel op die platform geskree om haar te gaan help. Een van die personeellede het op die kabel geklim en Merenthia gaan haal en na die platform geneem. ʼn Ambulans is ook ontbied.

“Ek het die harnas van Merenthia se kop afgehaal en kardiopulmonêre resussitasie (KPR) op haar toegepas. Nie een van die personeellede het aangebied om te help nie. Hulle het net rondgestaan en toegekyk. Ek dink hulle was in ʼn skoktoestand.

“Ek het vir sowat 15 minute lank KPR gedoen, voordat ʼn man by my oorgeneem het. Ek het begin duiselig voel weens die wonde aan my bene wat begin bloei het. Die man het vir so ʼn minuut lank aangegaan tot Merenthia self begin asemhaal het.”

Jaco sê hulle het boonop omtrent ʼn uur en ʼn half lank vir die ambulans gewag terwyl Merenthia se toestand aanhou versleg het.

“Die kabel het my ribbekas getref en van my ribbebene in die proses gebreek. Dié het in my linkerlong gesteek. Ek was besig om in my eie bloed te verdrink,” vertel Merenthia.

Die ambulans het omtrent ʼn verdere uur en ʼn half geneem om Merenthia by die MediClinic Plettenbergbaai te kry.

De Lange, in absolute skok, het die kinders intussen huis toe geneem. Sy, Dihan en Luhandré het ongedeerd van die voorval afgekom. Janco het slegs skaafplekke aan sy bene opgedoen.

By die hospitaal het die dokters Merenthia gestabiliseer en Jaco se been toegewerk. Sy is daarna na die Mediclinic George oorgeplaas, waar sy vir omtrent ʼn week en ʼn half behandel is.

“My tyd in die hospitaal is een groot blur. Al wat ek kan onthou, is dat die dokter een aand saam met my gebid het.”

Die kabel het ook van Merenthia se rug- en nekwerwels getref. Een van die werwels net bo haar stuitjie het byna heeltemal versplinter en haar senuwees afgesny. Volgens die dokters is daar geen kans dat sy ooit weer sal kan loop nie.

Jaco se bene het eerste die kabel getref (Foto: Verskaf)

Merenthia was ses weke lank in ʼn rehabilitasiesentrum in George, waarna sy oorgeplaas is na die Life VPH-rehabilitasie-eenheid in Kaapstad. Sy het vyf weke lank dáár deurgebring.

“Ek het daar balansoefeninge gedoen en oefeninge om fisiek sterker in my arms te word. Hulle het my ook geleer hoe om met die rolstoel oor die weg te kom.”

Merenthia het in die hospitaal altesaam sewe kilogram verloor.

Jaco moes al begin Januarie terugkeer na sy werk by ʼn myn op Phalaborwa. Hy is eers in Februarie na ʼn dokter om sy bene ná die ongeluk te laat ondersoek. Dit was opgeswel en baie pynlik.

Nuwe lewe in rolstoel

Talle aanpassings is in die huis gedoen sodat Merenthia makliker met die rolstoel kan rondbeweeg (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Merenthia kon in Maart vir die eerste keer huis toe gaan. Talle aanpassings is in die huis gedoen sodat Merenthia makliker met die rolstoel kan rondbeweeg.

Jaco se ouers, Marie (59) en Pieter Cronje (60), het ook by hulle op dieselfde erf in ʼn woonstel ingetrek sodat hulle met die kinders en huistake kan help. Die gesin moes intussen ook ʼn huiswerker aanstel om die take wat Merenthia voorheen self gedoen het, oor te neem.

“Ek kan nie meer self dorp toe ry, kosmaak of my kinders bad nie. Ek is gebonde aan die huis en is afhanklik van Jaco of my skoonouers om my te help. Dit is vir my frustrerend om heeldag handjies gevou te sit. Ek het altyd leiding geneem in alles wat ek doen.”

Merenthia het as veiligheidskoördineerder by Sasol gewerk en help tans met administrasie terwyl sy tuis is.

“My werk het baie fisieke krag van my geverg en ek sal dit nie meer kan doen nie. Dit is nog onseker of ek enigsins sal kan teruggaan werk toe.”

Merenthia het ook nie meer blaas- of maagbeheer nie en gebruik permanent doeke. Sy gebruik ook ʼn kateter om haar blaas te ledig.

Boonop leef sy elke dag in pyn.

“Elke dag is ʼn uitdaging. Soms wens ek Jaco het my net daar gelos. Soms wens ek ek was eerder dood. Dit is ondenkbaar om te dink ek sal vir altyd só moet leef.”

Die Cronje-gesin voor die ongeluk (Foto: Verskaf)

Die ongeluk eis ook ʼn emosionele tol op die gesin en volgens die egpaar is Janco ʼn “senuweewrak” ná die ongeluk.

“Hy bid in die aande en vra vir God dat ons nooit weer sal zipline nie,” vertel Jaco.

Geldelik trek die gesin ook noustrop.

Merenthia sê haar mediese fonds is uitgeput en hulle moes reeds duisende rande vir die hospitaal inbetaal. Die gesin is ook afhanklik van skenkings om hulle met Merenthia se mediese onkoste te help.

“Ek moet maandeliks sowat R3 000 opdok aan medikasie, doeke en kateters. Die mediese fonds betaal ook nie die spesialiste se rekeninge nie. Ons moet maandeliks ekstra geld vir die huiswerker betaal. Ons moes ook geld leen om ons badkamer en huis rolstoelvriendelik te maak.”

Die egpaar het in Maart ʼn prokureur gekry om met regstappe teen Tsitsikamma Falls te begin. Hulle sê hulle het sedert die ongeluk self met die bestuur probeer praat, maar kry nie voldoende terugvoer nie.

Gabriel le Roux, ʼn bestuurslid van Tsitsikamma Falls, het die voorval bevestig en sê hulle is in verbinding met die Cronje-gesin se prokureur.

“Dit was ʼn baie traumatiese voorval vir almal wat daarby betrokke is. Ek kan wel sê dat ons simpatie het en dit vreet dag en nag aan ons. Die Cronje-gesin is elke dag in ons gebede,” het Le Roux aan Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Louise ·

Baie sterkte vir julle, kan myself nie eers voorstel waardeur julle gaan nie… So jammer en tragies, Sterkte.

SomeOne ·

sterkte vir alles wat voorlë
ek bid vir jou merenthia, prostaat kanker het ook my senuwees na my onderlyf afgesny, ek was vir eers in ‘n rolstoel, later kon ek met behulp van krukke oor die weg kom, nou na byna 8jaar, kan ek redelik sukkelend loop, soos ‘n baie ou mens, kop af na die grond asof ek iets soek, maar loop, loop ek, hou vas aan jou geloof en bid tot God, hy sal jou help, hou ook aan Sy Hand vas

Elinette ·

Dis baie swak van Tsitsikamma Falls. Al is daar “disclaimer” borde op en teken mense “disclaimer & permission” vorms vooraf – as die dame seergekry het a.g.v. vermoedelike swak/nie-bestaande instandhoudingsprosesse of nie-voldoening aan veiligheidsstandaarde nie, moet die maatskappy of operateur haar mediese koste dra – vir nou en in die toekoms. Ek sal sewe soorte blou hel uit hulle dagvaar.

Gerhard ·

Die disclaimer bordjies en die vrywarings vorms wat jy teken sluit nie nalatigheid in nie. Baie maatskappye dink daai bordjies maak dat geen klient iets aan hulle kan doen nie, maar as daar gevind word dat iemand seergekry het agv nalatigheid van maatskappy se kant af is kan hulle regterlik aanspreeklik gehou word.

summie ·

Skokkend en Tragies ! Dit is BAIE nalatig van Tsitsikamma Falls om nie hulle toerusting na te gaan voordat iemand Zipline nie, en dit nogal juis nadat Merenthia aan hulle gevra het of die kabels reg lyk ? Personeel wat by so ‘n plek werk moet mos ook tog ALMAL behoorlik opgelei word in Noodhulp en hoe om te reageer in ‘n nood situasie! Ek hoop hulle prokureurs wen die saak en dat Tsitsikamma Falls volle verantwoordelikheid en aanspreeklikheid sal aanvaar. Dis die minste wat hulle kan doen, al help dit nie vir Merenthia om weer te loop nie. Maar mens weet nooit, ons aanbid ‘n Almagtige God by wie niks onmoontlik is nie !

Anoniem ·

Sterkte aan die familie, dit is sò hartseer en ‘n groot aanpassing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.