Verslag: Suid-Afrika vanaf ‘wonderkind na wrakstuk’

(Grafika: Maroela Media)

Die Solidariteit Beweging het in ʼn verslag oor die voortgesette Russiese wapenskandaal Suid-Afrika se stelselmatige verval onder die ANC-regering vanaf wêreldwonderkind in 1994 na huidige wrakstuk ontleed deur die ekonomiese en politieke gevolge van dié skandaal te beskryf.

“Indien Suid-Afrika wel internasionale sanksies verbreek het [deur wapens aan Rusland te verskaf], sal dit die kroon span op die ANC se totale mislukking as regering. Nie net het die ANC dan op plaaslike vlak totaal misluk nie, maar ook internasionaal die amper ondenkbare reggekry en Suid-Afrika weer tot op die rand van sanksies gesleep,” dui die verslag aan.

Volgens die verslag het die Verenigde State en sy bondgenote ʼn aantal individue en entiteite wat na bewering betrokke was by die inval en daaropvolgende besetting van Oekraïne, geteiken. Die sanksies sluit in bates van prominente Russiese politici en besigheidsmanne wat gevries word, algehele reisverbod en beperkings op toegang tot finansiële markte met Rusland wat van die SWIFT-stelsel afgesny is. Die Verenigde State het ook militêre samewerking en wapenverkope aan Rusland opgeskort, en die uitvoer van sekere tegnologiese goedere na Rusland verbied.

Laasgenoemde verbod is wat Suid-Afrika met beweerde wapenverskaffing aan Rusland verbreek en ʼn diplomatieke storm tot gevolg gehad het.

Skandalig en onwettig

Buiten die moontlike verbreking van internasionale verdrae het die Suid-Afrikaanse regering ook moontlik binne ons eie wetgewende raamwerk onwettig opgetree met die verskaffing van wapens.

“Wapenuitvoere in Suid-Afrika word streng gereguleer met geen wapenuitvoere, hetsy privaat of vanaf die regering, wat mag plaasvind sonder dat ʼn permit van die nasionale konvensionele wapenbeheerkomitee (NCACC) verkry is nie.”

Indien enige wapens uitgevoer wil word, is die uitvoerder wettig verplig om eers aansoek te doen by die NCACC. Artikel 15 van die betrokke wetgewing stipuleer verskeie maatstawwe waaraan voldoen moet word alvorens die komitee ʼn permit mag uitreik.

Hierdie vereistes sluit in om die nasionale sekuriteit en belange van die land en sy bondgenote te oorweeg, uitvoere te vermy na regerings wat menseregteskendings pleeg en gehoor te gee aan internasionale reg, praktyke en norme.

In hierdie stadium is daar volgens die verslag egter geen openbare bewyse van wapenuitvoere na Rusland wat ingevolge hiervan goedgekeur is nie.

“Tydens normale verslaggewing aan die parlement op 24 November 2022 het die hoof van die sekretariaat van die NCACC, adv. Ezra Jele, verslag gedoen dat daar ongeveer R2,8 miljard se wapenuitvoere tans in die burokratiese proses vasgevang lê.”

Die lande waarna wapenuitvoere wel goedgekeur is, is Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate, Turkye en Pole – geensins Rusland nie.

“Indien enige wapens dus na Rusland uitgevoer is, sal dit binne Suid-Afrikaanse wetgewing onwettig wees. Ingevolge bestaande wetgewing is die straf vir onwettige handel van wapens sonder die nodige permitte, ʼn boete of tronkstraf van tot 25 jaar.”

Die aanspreeklike persone wesende die regeringsamptenare wat wel, hetsy amptelik of nie-amptelik, uiteindelik dié uitvoere goedgekeur het.

Gevreesde ekonomiese gevolge

Volgens die verslag het die VSA ʼn geskiedenis om lande ekonomies te straf indien hulle die VSA se politieke agenda duidelik teengaan. Dit is ook die vrees vir Suid-Afrika.

“Die VSA stel ook relatief maklik ʼn handelsverbod in teen lande wat verdrae verbreek en sanksies omseil. Van die lande op hierdie lys is Irak, Kuba, Iran, Sirië, die Demokratiese Republiek die Kongo, Zimbabwe, Liberië, Venezuela, Noord-Korea en Eritrea. China, Rusland en Venezuela is ook aan ʼn gedeeltelike verbod onderworpe, veral wat handel in wapens betref. Ten beste beteken so ʼn verbod dat daar vir elke transaksie om ʼn lisensie aansoek gedoen moet word. Ten slegste word alle handel met so ʼn land verbied.”

Die impak van ʼn algehele handelsverbod op Suid-Afrika kan verwoestend vir die ekonomie wees.

“Die moontlike impak van ʼn handelsverbod sal wees om Suid-Afrika se ware [uitgebreide] werkloosheidskoers te verhoog vanaf 41% na 43%, wat Suid-Afrika weer op koers plaas om werkloosheidsvlakke te tref wat laas tydens die grendeltyd gesien is.”

Dit is omdat elke R418 000 van BBP tans gelyk is aan een werksgeleentheid volgens die verslag. Daar is ook al bereken dat sowat 66 000 plaaslike werksgeleenthede direk verband hou met die Agoa-wetgewing van die VSA. Indien uitvoere na die VSA heeltemal wegval, kan 425 000 werksgeleenthede potensieel in die slag bly.

ʼn Gekoördineerde ontbloting?

Die VSA se ambassadeur na Suid-Afrika, Reuben Brigety, het die aantygings van wapenverskaffing die afgelope Donderdagmiddag gemaak net voor sy terugkeer na die VSA. Dít saam met ʼn afvaardiging van Suid-Afrikaanse beamptes na die VSA, gelei deur Sydney Mufamadi, met die doel om Suid-Afrikaanse verhoudinge in die VSA te versterk spesifiek met die fokus op Agoa.

“Dit ondenkbaar dat die VSA se ambassadeur aan Suid-Afrika, Reuben Brigety, die aantygings sou kon maak sonder dat daar besonder goeie intelligensie en goedkeuring vanaf die Withuis ontvang is. Brigety wat verbatim aanhaal uit ANC-beleidskonferensiedokumente wat teen die VSA uitvaar, dui op ʼn besliste skuif in die VSA se hantering van Suid-Afrika se regering,” dui die verslag aan.

Die ontbloting het gekom net enkele ure voor president Cyril Ramaphosa se geskeduleerde parlementêre vraag- en antwoordsessie waarin DA-leier John Steenhuisen hom juis oor dié kwessie kasty het. Die vraag waarin Steenhuisen die wapenkwessie aangespreek het, was ook nie ʼn voorafgoedgekeurde vraag nie wat beteken Ramaphosa was nie verplig om die vraag te beantwoord nie, hoewel hy eindelik het.

“Al hierdie feite dui op ʼn wesenlike skuif in die VSA se siening van Suid-Afrika en dan spesifiek die ANC-regering.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.