Verslag wys groot ongerymdhede by binnelandse sake

(Foto: Skermskoot/Google Earth)

ʼn Ondersoek na aansoeke wat die departement van binnelandse sake vir visums en verblyfaansoeke van buitelanders verwerk, het groot bedrog in die departement blootgelê.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het die bevindings van die taakspan wat aangestel is om al die permitte wat die departement sedert 2004 uitgereik het te hersien, vandeesweek in die parlement bekend gemaak.

Dit skets ʼn duistere prentjie van aansoeke wat met min of soms selfs belaglike inligting goedgekeur word, aftreevisums wat aan aansoekers in hul 20’s toegestaan word, of verblyfreg wat goedgekeur word terwyl bedrieglike dokumente die aansoek vergesel.

Die taakspan het bevind weens die erns van die saak en die dwingende bewyse wat tydens die dataontledingsproses gevind is, moet die Valke se hulp ingeroep word om die sake te ondersoek. Die bewyse is reeds aan die eenheid oorhandig.

Verskeie fluitjieblasers het die taakspan ook gelei na mense wat met die hulp van vermeende korrupte amptenare van die departement visum- en permitaansoeke in hul guns bewimpel.

Só lyk sommige bevindings

  • Sommige aansoeke vir permanente verblyfreg is goedgekeur selfs al het die aansoekers nie die vereiste vyf jaar van verblyf in die land afgehandel nie. Altesame 80% van hierdie goedgekeurde aansoeke was vir eggenote, afhanklikes of familielede.
  • ʼn Patroon is ontdek van amptenare wat aansoeke goedkeur selfs nadat dit vantevore afgekeur is omdat bedrieglike dokumente ingedien is. Dié sake is na die polisie vir verdere ondersoek verwys.
  • Aansoeke word gewysig in die hoop dat een daarvan sal slaag en die aansoeker in die land kan aanbly. ʼn Voorbeeld hiervan is iemand wat Suid-Afrika binnekom vir ʼn gewone besoek. Dan word ʼn aansoek vir asiel of ʼn werksvisum skielik ingedien. ʼn Aansoek om kwytskelding volg op die asielaansoek, of ʼn verandering in die werksvisumvoorwaardes word aangedui omdat die aansoeker nou ʼn lewensmaat het wat in die land woon.
  • Altesame 79% van aansoekers wat in 2018 jonger as 55 jaar oud was, maar nietemin vir aftreevisums aansoek gedoen het, se aansoeke is goedgekeur. “Altesame 65% van goedgekeurde visums was vir aansoekers van 25 jaar oud of jonger en kon dus in Suid-Afrika aftree. Die aftreevisums is dan gewysig na ander soorte visums soos ʼn werksvisum of om te trou.”

Die taakspan het bevind voorvalle soos dié moet omvattend ondersoek word.

Groot ongerymdhede

Volgens die departement was 34% van aansoekers wat tussen 2014 en Junie verlede jaar vir ʼn noodsaaklikevaardigheidsvisum aansoek gedoen het, Zimbabwiërs. Vir Januarie tot Desember verlede jaar staan dié syfer op 38%.

Tussen 2014 en verlede jaar was 23% van alle goedkeuring wat ingevolge ʼn aansoek vir ʼn gewone studievisum toegestaan is, aan Zimbabwiërs gegee. Tussen Januarie en Desember verlede jaar het Zimbabwiërs se aansoeke tot ʼn kwart van alle suksesvolle aansoeke gestyg.

Altesame 11% van goedgekeurde visums is aan Nigeriërs toegeken en 10% aan Kongolese. Die drie lande is verantwoordelik vir ʼn gesamentlike 44% van alle studievisums wat die departement vir buitelanders goedgekeur het.

Volgens die taakspan is sommige studievisums boonop binne ʼn enkele dag afgehandel.

“Met die eerste oogopslag klink dit goed, maar as die [regte] prosesse gevolg word, wek dit agterdog en benodig dit verdere ondersoek,” lui die departement se voorlegging.

Die taakspan het ook vreemdhede opgemerk oor kursusse en die beskrywing van instellings. Verskeie daarvan was vaag of het nie sin gemaak nie.

In 2018 was daar ook veral ʼn skerp styging in hierdie soort aansoeke, hoewel dit onduidelik is wat dit veroorsaak het. Die hoogste stygings in aansoeke was van burgers van Bangladesj, Pakistan, Nigerië en Indië.

Sommige aansoekers is genaturaliseer nadat hulle permanente verblyfreg bekom het, maar voor die vereiste vyfjaartydperk daarvoor verstryk het. Dit kan net met ʼn spesiale vergunning van die minister gebeur. Die minister moet enige sodanige goedkeuring ook aan die parlement voorlê, wat nie gebeur het nie. Sommige mense is selfs genaturaliseer voor hulle permanente verblyfreg gekry het, het die taakspan bevind.

Aanbevelings

Gegrond op die bevindings van die hersieningskomitee moet ʼn deeglike ontleding en gedetailleerde forensiese ondersoek na die stelsel gedoen word.

Sommige visums moet herroep word, sommige mense moet dalk uit die land geskop en andere strafregtelik vervolg word. Interne tugstappe kan ook teen amptenare ingestel word wat by ongerymdhede betrek word, lui sommige aanbevelings.

Die komitee beveel ook aan dat onafhanklike spanne prokureurs, advokate, forensiese ondersoekers, spesialisontleders en stelselkenners aangewys word om enige ongerymdhede, bedrieglike aansoeke, korrupte bedrywighede, stelselongerymdhede en wanbestuur wat in die verslag uitgewys word, te ondersoek. Hulle kan dan verdere aanbevelings maak oor kwessies soos moontlike strafsake, tugstappe en stelselverbeterings.

Daar sal ook begin moet word om die buitelanders wat op bedrieglike wyse visums bekom het, op te spoor en te deporteer.

Die komitee het ook aanbeveel dat die departement al sy aansoeke wat nog met die hand verwerk word, digitaliseer. As dit nie gedoen word nie, sal dit onmoontlik wees om die inligting in al die lêers te verbind en die soort patrone uit te lig wat nou met gevorderde dataontledingsinstrumente gedoen is. Die departement is reeds besig hiermee.

Voorts word ʼn hersiening van tersaaklike wetgewing en regulasies aanbeveel. Daar moet spesifiek gekyk word na saambly-ooreenkomste of notariële kontrakte wat gebruik word om huwelike te bevestig. Die komitee het bevind dat sommige van dié kwansuise dokumente tuisgemaak is en nie deur prokureurs verskaf is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frank John ·

Corruption, aangevuur deur die ANC se politieke leiers. En ek sien ook Molema se finger hier betrokke om die land te vul met sy eie lands genote. Sy plan is beslis nie net om poleties in bewind te kom nie maar hy beplan ‘n staatsgreep iewers in die toekoms. Hou hom dop. Die ANC moet wakker skrik, hulle gaan uitgelig word.
So is voorheen ook probeer om Botswana oor te neem met staatsgreep. Daai persoon is nou groot leier in ons land. PASOP! Word wakker ek staan verbaas oor dit wat in die land besig is om te gebeur. Daar is mense met groot planne, onder duimse planne

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.