Versoek dat OB Ramaphosa se reisuitgawes ondersoek

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: GovernmentZA/Twitter)

Die Demokratiese Alliansie sal die Openbare Beskermer, Koleka Gcaleka, versoek om ʼn volledige ondersoek van stapel te stuur na bewerings van buitensporige en verkwistende uitgawes vir spyseniering aan boord die Inkwazi- presidensiële vliegtuig.

Slegs op die 12 uur-vlug van Londen na Suid-Afrika, ná koninging Elizabeth II se begrafnis verlede jaar, het die spyseniering R24 000 per persoon beloop. Dit is ʼn totaal van net minder as R600 000 vir minder as 18 BBP-gaste.

“Hierdie verdoemende bewerings word vererger in die lig van ʼn verslag vandeesweek deur die ondersoekende joernalis Estelle Ellis dat 1 722 gevalle van ernstige wanvoeding tussen Augustus 2022 en September 2023 onder kinders in die Oos-Kaap aangemeld is,” sê John Steenhuisen, leier van die DA.

Altesaam 101 van hierdie kinders is oorlede. Nog 13 is met matige tot ernstige akute wanvoeding gediagnoseer.

“Dit is duidelik dat terwyl pres. Ramaphosa en sy BBP’s buitensporige spyseniering- en alkoholrekeninge vir reise ten koste van die Suid-Afrikaanse belastingbetaler aanteken, vergaan duisende gewone Suid-Afrikaners van erge honger en wanvoeding. Die presidensiële gulsigheid en vraatsug is só blatant dat oortollige kos, drank en sjokoladekoeke in hul bagasie uit Inkwazi gesmokkel word.”

Steenhuisen sê in die lig van die toenemende hongerkrisis in Suid-Afrika, is Ramaphosa se gevoellose reaksie van ‘laat hulle koek steel’ die uiterste uitbeelding van die mate waartoe die president buite voeling is met die behoeftes van Suid-Afrikaners en hoe gevoelloos die ANC geword het as ʼn “regerende party wat magsdronk is”.

“Suid-Afrikaners verdien ʼn regering wat berge sal versit om seker te maak dat hulle drie voedsame etes per dag op die tafel kan sit, nie ʼn regering wat gebakte goedere, sjokolade en duur alkohol uit die presidensiële vliegtuig skuif na die huise van kaders nie.”

Steenhuisen sê dit is veragtelik dat pres. Ramaphosa en die ANC steeds só blatante minagting kan toon vir die lyding van Suid-Afrikaners wie se onvermoë om aan hul mees basiese behoeftes te kan voldoen, ʼn skending is van die Handves op Menseregte soos vervat in die Grondwet.

“Die DA sal ʼn onmiddellike ondersoek versoek in hierdie bewerings van reis-vraatsug sodat die staatskas spandeer kan word om honger mense te voed, en nie rykaard ANC-politici nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

willie ·

En hoe gaan sy dit doen, as die ANC haar in die OB possissie geplaas het.

Retha ·

Hiervan gaan net dadels kom, want hul almal deel in daardie reiskoste

Wondermaarnet ·

Hulle vlieg lekker op die “gravy plane”. Niks gewoond nie, dan wil hulle kaviaar en duur whisky drink, maar by hul eie huise is dit pap, pap en nog pap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.