Versoeter by jou tee? WGO waarsku oor gevare

Argieffoto (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Kunsmatige versoeters kan ernstige gesondheidsgevare inhou en help nie eens noodwendig om van daardie ekstra vetjies ontslae te raak nie, waarsku die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).

Die WGO het vandeesweek nuwe riglyne rondom die gebruik van natuurlike en kunsmatige versoeters beskikbaar gestel.

Volgens dié riglyne dui ʼn sistematiese oorsig van beskikbare bewyse daarop “dat die langtermyngebruik van natuurlike versoeters geen voordeel in die vermindering van liggaamsvet by volwassenes of kinders inhou nie”, maar eerder “moontlike ongewenste uitwerkings kan hê, soos ʼn verhoogde risiko van tipe 2-diabetes, kardiovaskulêre siektes en selfs sterftes by volwassenes”.

Miljoene mense gebruik daagliks versoeters in produkte soos dieetkoeldrank, of om koffie en tee te versoet, pleks van suiker. Dit word onder meer gedoen as ʼn manier om gewig in toom te hou.

Hoe gesond hierdie plaasvervangers werklik is, is al lank reeds ʼn omstrede saak.

Francesco Branca, die WGO se direkteur vir voeding en voedselveiligheid, beklemtoon dat die vervanging van gewone suiker met kunsmatige versoeters “nie help met gewigsbeheer op die lang duur nie”. Hy sê mense moet ander maniere oorweeg om die inname van vrye suikers te verminder, soos om kos te eet wat natuurlike suiker bevat – soos vrugte – of onversoete kos en drank.

“Natuurlike versoeters vorm nie deel van noodsaaklike dieetfaktore nie en het geen voedingswaarde nie. Mense moet van jongs af die inname van suiker in hul dieet aansienlik afskaal.”

Volgens die WGO is sy nuwe riglyne van toepassing op alle mense, behalwe diabete.

Die produkte waarna verwys word sluit in alle sintetiese en natuurlike of gemodifiseerde versoeters wat nie as suikers geklassifiseer word wat in vervaardigde voedsel en drank voorkom of op hul eie verkoop word om deur verbruikers by produkte gevoeg te word nie.

Verwarring

Onder die versoeters wat die meeste gebruik word, is asesulfaam K, aspartaam, advantaam, siklamate, neotaam, sakkarien, sukralose, stevia en stevia-afgeleides.

Die WGO sê die riglyne is onderworpe aan bepaalde voorwaardes, aangesien dit moeilik bly om  besliste gevolgtrekkings te maak weens die diversiteit van deelnemers en die kompleksiteit van die gebruik van natuurlike versoeters, gesien in die navorsing wat tot dusver oor die kwessie gedoen is.

Daar is kenners wat gebreke in die WGO se verslag uitgewys het, wat grootliks gegrond is op waarnemingstudies wat nie regstreeks ʼn verband tussen versoeters en gewig of siekte kan vasstel nie.

Nita Forouhi, ʼn spesialis in voeding en epidemiologie aan die Universiteit van Cambridge in die Verenigde Koninkryk (VK), het beklemtoon dat “die gebruik van versoeters deel kan wees van ingrypings om gewig op die korttermyn te bestuur”.

“Dit is nie raadsaam om natuurlike versoeters op die lang duur te gebruik vir gewigsbestuur en chroniese gesondheidstoestande soos die ontwikkeling van toekomstige tipe 2-diabetes en kardiovaskulêre siektes nie,” het Forouhi aan die Science Media Centre gesê.

Tom Sanders, emeritus professor in voeding en dieetkunde aan King’s College in Londen,  het gesê die oorsig het nie die impak van die vervanging van suikerhoudende drankies met kunsmatig versoete drankies in ag geneem nie.

Sanders het gesê hy dink die riglyne sal “waarskynlik baie verwarring in die openbare gesondheidsarena veroorsaak”, veral in die VK, waar ʼn belasting op suiker daartoe gelei het dat drankvervaardigers suiker met kunsmatige versoeters vervang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Wakkerslaper ·

Ek is heeltemal gekant teen kunsmatige versoeters, maar daar bestaan vandag bykans geen voedselproduk meer wat nie ‘n klomp versoeters bevat nie. Ek word dus nou gedwing om hierdie versoeters te gebruik, en nie rietsuiker nie. Dit pla my al ‘n baie lang tyd…

Agv die s.g. “suiker belasting” word suiker in meeste kosprodukte nou met kunsmatige versoeters vervang om kostes te bespaar. Deur natuurlike suiker in ‘n produk te gebruik is nie die rede vir oorgewig mense nie – ‘n oormaat gebruik van produkte met suiker deur die verbruiker is die rede daarvoor. Hoekom moet die produsent nou gestraf word? Niemand dwing die verbruiker om ‘n oormaat produkte met suiker te gebruik nie.

Werner ·

Absoluut korrek. Probeer ENIGE koeldrank of aanmaakkoeldrank kry sonder kunsmatige versoeters. Onmoontlik. Ek probeer sover moontlik my eie koeldrank maar vir ons gesin, met suiker en suurlemoensap, dan Sodastream.

Johan ·

Die 1 liter Coke is die eenigste gaskoeldrank waarvan ek weet wat geen kunsmatige versoeters bevat nie.

JvR ·

Sodastream het ook kunsmatige versoeter. Coke 1liter het geen kunsmatige suiker

Lily ·

En winkels vra in baie gevalle meer vir die “No Sugar” koeldranke as vir dié met suiker.

Samuel ·

Niks is deesdae meer gesond nie. Hierdie verslag gaan beslis net verwarring veroorsaak by mense wat deur hulle dokters en dieetkundiges aangeraai word om versoeters te gebruik. Die WGO hou van verwarring skep.

JD ·

Die “WGO” haha.
Hoe kan enigiemand hulle nog ernstig opneem?
Soos met enigiets- matigheid voor oë…

SwartBees ·

Kan die WGO asb n lys van produkte verskaf wat nie suiker, versoeter en groei hormone bevat nie. Ek wil graag my kos kas, vries kas en groente mandjie uit sorteer.

TruthDealer ·

Daar is die outydse manier. Vars vleis van n kleinboer wat jy ken en weet dat hy nie sy vee vol hormone en ander middels stop nie. Vars groente en vrugte. Soos die oumense geëet het. Everything made “from scratch”. Geen massa geproduseerde bevrore kosse. Geen sodas. Net 100% vrugtesappe. Om so te eet is moeilik want meeste mense het eenvoudig nie meer die tyd nie, en weet ook nie waar om regtig gesonde vleis te kry nie. Ek sou wildsvleis aanbeveel en boerbok is ook baie lekker.

TruthDealer ·

Maroela laat nie veel skryfspasie toe nie, so antwoord #2. Jy kan bietjie bruinsuiker gebruik maar heuning is die enige regtige gesonde versoeter. Kyk egter altyd op die bottel, nie heuning van China, probeer altyd so “local” as moontlik koop. Maak jou eie roomys tuis. Probeer om alles wat jy inneem so vars en onverwerk as moontlik te hou. Soos die oumense gekook het. Ekself kan ook nie altyd hierby hou nie weens tyd en onkoste. Maar dis die enigste manier om regtig gesond te eet. Vir die wat ka

JvR ·

Baie maklik. As dit op n winkel rak is, het dit hormone, ongesonde suiker, giftige vette ens

JohanR ·

Nee dankie ek het eens ‘n versoeter probeer en nie van die smaak van my koffie gehou nie. Ek bly maar by bruin suiker of heuning.

JvR ·

Jare gelede, in die 70’s en vroeë 80’s was sakarien die kunsmatige versoeter van keuse. Toe word dit van die mark afgehaal as gevolg van “gesondheids risikos”. TOe kom die res in, en sedertdien is floreer diabetes ens. HMMMMm

Piet ·

Maar ons moet dan duurder betaal vir suiker en produkte wat suiker bevat juis om te verhoed dat ons diabetes kry!!!!!

Hoopvol ·

Daar is heelwat navorsing wat daarop dui dat kunsmatige versoeters SLEGTER is as SUIKER, veral vir diabete, waar insulienweerstandigheid (tipe 2 diabetes) ter sprake is. Ons liewe regering dwing ons egter om méér van dié gif te gebruik. Bly maar weg van suiker ook, maar veral van kunsmatige versoeters. En, asseblief, sal iemand tog ons regering op hul onkunde wys! Ja, en sommer ook die medici wie nie op hoogte bly met navorsing nie, en diabetes “behandel” deur dit te vererger met verkeerde dieet riglyne en onsinnige medikasie, wat lei tot ERGER insulienweerstandigheid…

Susanna ·

As jy sou gehoor gee aan ‘statistieke’ gaan jy op die einde van die dag niks ‘gesond’ hê om te eet nie. Noem maar op, ‘statistieke’ wil mens laat doodgaan van die honger

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.