Vertraging met Clanwilliamdam blok 15 000 nuwe poste

Clanwilliamdam in die Wes-Kaap (Foto: Winfried Bruenken (Amrum), eie werk via Wikimedia Commons)

Die Wes-Kaapse departement van landbou het in reaksie op ʼn parlementêre vraag van die DA onthul hoe eindelose vertragings in die oprigting van die Clanwilliamdamwal die skep van 15 000 nuwe poste verhoed.

“Die oprigting van die damwal, wat al in 2018 afgehandel moes wees, is nóg ʼn teken van wanbestuur, ondoeltreffendheid en moontlike korrupsie deur die ANC-regering,” sê Andricus van der Westhuizen, die DA se Wes-Kaapse woordvoerder oor landbou, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning.

Die nasionale departement van water en sanitasie het aangedui dat die projek waarskynlik in 2028 afgehandel sal wees.

“Die nuwe poste sal spruit uit die 5 874 hektaar nuwe besproeiingsplase wat ontwikkel sal word met die verhoogde watertoevoer.”

Die nuwe besproeiing sal ook ʼn bydrae lewer tot:

  • die ontwikkeling van sekondêre besproeiingskemainfrastruktuur van R2,071 miljard;
  • gewasvervaardiging: gemiddelde bruto binnelandse produk-verhoging van R2,974 miljard per jaar (2018-pryse);
  • boerderybedrywighede sal jaarliks sowat R4,894 miljard in nuwe kapitaal skep;
  • lone wat betaal word beloop ongeveer R2,131 miljard per jaar (2018-pryse); en
  • belasting aan die fiskus sal met ongeveer R766 miljoen per jaar toeneem.

Huidige besproeiingsplase sal ook groter watersekuriteit geniet en dit sal lei tot:

  • ʼn Totale gemiddelde BBP-verhoging van R601 miljoen per jaar;
  • verhoogde werksekerheid vir 4 611 poste;
  • gemiddelde verhoging in huishoudelike inkomste van R650 miljoen per jaar;
  • belasting aan die fiskus sal ongeveer R171 miljoen per jaar beloop; en
  • die gemiddelde jaarlikse stabiliseringsimpak van die verhoging in die betalingsbalans is R328 miljoen.

“Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat die nasionale regering soveel tyd gemors het om ʼn projek af te handel wat só ʼn positiewe impak op die gebied rondom die Clanwilliamdam kan hê. Werkloosheid is ʼn nasionale krisis en as die ANC nie die Clanwilliamdam as ʼn prioriteit beskou nie, sien hy beslis nie hoe 15 000 poste ʼn yslike verskil kan maak in die provinsiale ekonomie of in die lewens van 15 000 huishoudings nie.”

Van der Westhuizen sê die DA sal steeds druk bly plaas op die nasionale regering om die konstruksie vinnig af te handel. “Ons kan nie nog vyf jaar wag vir poste wat nou dringend nodig is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pietertjie ·

Dis ‘n swaar straf om deur verstandloses oorheers te word.

Kokerboom ·

Vir 30 jaar gaan dit met ALLES so wat ANC regime aanpak. Die tragiese van alles is dat ons ‘n regte Afrika gesindheid van “wag en kyk” en “dit is nou maar so” aangekweek het!

Casper ·

Die ANC het nie die kundigheid om dit te doen nie.Ek glo hulle sal Sjina vra om te help of dalk die Russe.

wim ·

Tog jammer dat die DA se segsman nie ook aandag gee aan die onwettige damme wat in sy jurisdiksie gebou word nie, en sodoende die omgewing venietig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.