‘Vertroue is gebreek’ ná Middelburg-staking

Die Steve Tshwete -plaaslike munisipaliteit se kantoor in Middelburg. (Foto: CoGTA/Facebook)

“Ons is dankbaar die staking is verby, maar die vertroue [in die munisipaliteit] is nie meer daar nie.”

Dít is hoe inwoners van Middelburg voel oor die Steve Tshwete- plaaslike munisipaliteit se bestuur nadat daar toegelaat is dat werkers aan dié munisipaliteit maande lank aan sporadiese stakings deelneem wat die dorp se bedrywighede en dienslewering omvergegooi het.

Prudence Magutle, woordvoerder van die munisipaliteit, het bevestig dat die ontwrigtende stakings Vrydag al opgeskort is nadat daar ʼn ooreenkoms met die munisipaliteit aangegaan is.

“ʼn Ooreenkoms is deur vakbonde onderteken en die betrokke werkers het reeds teruggekeer werk toe.”

Magutle het egter nie verdere besonderhede oor die ooreenkoms gegee nie.

“Die ooreenkoms is nog by die munisipale bestuurder en sal eers volgende week voor die raad vir oorweging voorgelê word,” het Hennie Niemann, plaaslike DA-raadslid, aan Maroela Media gesê.

“Daar word nie in hierdie stadium veel besonderhede oor die ooreenkoms bekend gemaak nie omdat dit onderhewig is aan goedkeuring deur die raad.”

Niemann bespiegel dat die ooreenkoms onder meer ʼn moontlikheid van ʼn hoër gradering van die munisipaliteit insluit, asook dat geskorste werkers weer kan terugkeer werk toe. Dié werkers se tugsake sal nietemin voortgaan.

Volgens Nico Denner, ʼn inwoner op die dorp, is die hele dorp nou silwerskoon nadat werkers die afgelope Vrydag, Saterdag en Sondag gewerk het om vullis van die strate te verwyder, asblikke weg te ry en gemors op te vee.

“Daar het ʼn rustigheid oor die dorp neergedaal en op grondvlak lyk dit asof dinge goed aan die gang is,” sê hy.

“Maar die verhouding tussen inwoners en die munisipaliteit is gebreek en ons het nie meer daardie vertroue in hul vermoëns nie.”

Inwoners het Dinsdag weer sonder water gesit weens ʼn probleem met die infrastruktuur en verlede week het talle mense op twee afsonderlike dae tussen ses en 12 uur lank sonder krag gesit.

“Ons besef daar is ʼn nuwe munisipale bestuurder aan die stuur en dat alles nou eers weer goed op dreef moet kom, maar ons hou ons asem op en wag vir die volgende skoen om te val.”

Inwoners is bekommerd dat enigiets, soos die komende tugsake wat moontlik nie goed kan verloop nie, die dorp weer in anargie sal laat verval.

“Daar is baie onsekerheid oor hierdie soort goed. Die raad is stil en ons weet nie wat volgende gaan gebeur nie. As die burgemeester ons net kan inlig oor waar ons nou staan en die pad vorentoe sal almal meer gerus wees,” sê hy.

Daar is ook nog groot ongelukkigheid oor inwoners se munisipale rekeninge, aangesien inwoners beweer dat krag- en waterverbruik al maande lank geskat is en die meeste van hulle net voortgegaan het om getrou aan hul rekeninge te betaal.

“Daar is nog baie goed wat op die dorp moet gebeur, soos die slaggate wat gevul moet word, verkeersligte wat buite werking is en infrastruktuur wat nie werk nie. Ons is bekommerd oor wat al hierdie herstelwerk aan ons sakke gaan doen.

“Die munisipaliteit het homself nou bewys met die klein goed, nou hoop ons net dat die groot probleme ook op dieselfde wyse aangepak sal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarel ·

Dit is een van die Probleme….werkers kry altyd hulle werk terug en daar kom.nooit verl van Tugstappe nie.

Vonkprop ·

Presies wat ek voorspel het. Daar word gedreig dat daar streng teen stakers opgetree sal word en hulle het, want hulle is geskors, maar dan breek en brand hulle om die geskorste werkers weer terug te kry en die munisipaliteit gee toe. En nou moet die munisipaleit hoër gegradeer ook word wat beteken groter salarisse. Ek wens ek kan hierdie mentaliteit by my werk ook toepas.

Bart-Man ·

Belasting betalers is te geduldig, vrygewig, en te dankbaar met die staatsdiens. Was dit nou n privaat instansie het hulle lankal in die hof gesit.

Jacobus ·

Dit gaan nie werk om net te bly toegee aan vereistes nie. Wat volgende?

Kokerboom ·

Stert swaai hond. Gepeupel in beheer. Diens en prestasie by agterdeur uit.
Nuttelose Minister ‘ “disgrace” vir land. ANC gelukkig met Afrika standaarde.. Dag zero vir plaaslike owerhede in land in sig TENSY belastingbetalers ruggraat kry en besluit genooeg is genoeg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.