Vervolging, skuldigbevindings, vonnisse moet volg

‘n Argieffoto van pres. Cyril Ramaphosa en sy voorganger, Jacob Zuma. Zuma staan sentraal in staatskaping en Ramaphosa word daarvan beskuldig dat hy nie genoeg gedoen het om dit te stuit nie. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Vier jaar, R1 miljard en 5 437 bladsye later, is die vraag nou of die Zondo-kommissie na staatskaping tot enige optrede gaan lei.

Herman Mashaba, president van Action SA, sê die party se regspan gaan dadelik ʼn waaksaamheidsopdrag van stapel stuur om dop te hou of almal wat by staatskaping betrek word, aan die pen ry.

“Ons het geen vertroue in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om sy plig te doen nie en sal waaksaam bly om te verseker geregtigheid geskied. Indien nodig, sal ons selfs in die howe hiervoor veg,” sê Mashaba.

Action SA sal nou alle moontlike regsopsies ondersoek om te verseker die verslag lei tot optrede.

“Dit is tyd om Suid-Afrika te herstel en korrupsie en diewery vir altyd die rug te keer.”

Mashaba het ʼn beroep op Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, gedoen om die vervolging van almal wat by die verslag betrek word, te prioritiseer.

Die jongste aflewering van die staatskapingsverslag handel onder meer oor die kaping van die staatsveiligheidsagentskap, die SAUK, die Passasierspooragentskap (Prasa), sowel as die omstrede Gupta-landing by die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria. Name wat in die verslag genoem word as diegene teen wie vervolging moontlik ingestel kan word, sluit in Arthur Fraser, Dudu Myeni, Edwin Sodi, Hlaudi Motsoeneng, Duduzane Zuma en Nomvula Mokonyane.

Mashaba sê daar moet gevolge wees vir wangedrag indien Suid-Afrikaners enige vertroue in die strafregstelsel gaan hê. “Vir hierdie oefening om meer as net ʼn vertoning te wees, moet daar vervolgings, skuldigbevindings en vonnisse opgelê word.

Die drukgroep Outa sê die staatskapingsverslag behoort die mees geleesde dokument in die land te wees. Dit onbloot die skande van die regering, die ANC en die land se leiers.

“Die ANC het nie net toegelaat dat patronaatskap en korrupsie versprei nie, hy het dit aktief aangemoedig en moontlik gemaak.

“Ons voormalige president, Jacob Zuma, het sentraal gestaan en ons huidige president [Cyril Ramaphosa] het nie genoeg gedoen om dit te stuit nie.”

Outa sê die staatskapingsverslag is ʼn kragtige en waardevolle stuk gereedskap vir ondersoekers en aanklaers – en ʼn eerbetoon aan die fluitjieblasers wat korrupsie aan die groot klok gehang het.

Nog ʼn groot taak lê egter voor, met wetstoepassingsowerhede en verskeie ander instellings wat die aanbevelings in werking moet stel.

“Ons wil almal oranje oorpakke sien, maar ons weet dit kan geruime tyd duur.”

Outa sê noudat die kommissie die inligting versamel het, die verdagtes geïdentifiseer het en vasgestel het wie die getuies is, moet die polisie nou dossiere open, bewyse versamel en dit aan ʼn aanklaer voorlê wat moet bepaal of vervolging ingestel moet word.

Die staatskapingsverslag bevat nie net sogenaamde reaktiewe aanbevelings – ondersoek en vervolging – nie, maar ook proaktiewe aanbevelings oor watter wetgewing om te wysig, watter herstrukturering om te doen en wat gedoen kan word om die rol van oorsigliggame en die burgerlike samelewing te versterk.

Dr. Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, sê die finale aflewering van die verslag versterk die party se jarelange stryd teen kaderontplooiing. Die DA gaan die ganse afdeling van die verslag wat oor kaderontplooiing handel, nou ook indien as stawende getuienis in sy hooggeregshofsaak waarin hy vra dat die ANC se beleid van kaderontplooiing ongrondwetlik, onwettig en onregmatig verklaar word.

Schreiber sê die verslag betrek Ramaphosa – as voorsitter van die ANC se kaderontplooiingskomitee tussen Desember 2012 en Desember 2017 – direk.

Zondo het in die verslag bevind talle van diegene wat staatskaping moontlik gemaak het, sou deur die ontplooiingskomitee aangewys gewees het.

“Dit is nie genoeg vir pres. Ramaphosa om te fokus op die toekoms van die party en sy beoogde hernuwingsproses nie. Daar moet verantwoordelikheid geneem word vir die gebeure van ʼn vorige era,” lui die verslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

JohanR ·

As ek daai glimlag op Zuma se bakkies sien, dan wil ek net klap!

annie ·

Gelukkig vir ons is daar ons flink en blink vervolgingsgesag. Daar’s ok net so ‘n klein probleempie nl ‘n tekort aan ‘n biljoen. Maar dit behoort seker binne die volgende dekade aandag te kry. Die tannies het hul glo reeds bewys as vinnig klaar by die haarkapster vir die volgende ete-afspraak om ernstige misdrywe te bekyk oor ‘n glasie appelsap, beslis nie Kaapse-houmoedrooiwyn-14%.

Lourens CFG ·

Ek dink die NVG, SAP, en almal wat moet ondersoek, aankla ens. gaan wag vir Oktober om te hoor wat mamparra te sê het, voordat hulle gaan begin om te “dink” hoe hulle dit gaan doen.

André ·

Ek sal geld neersit dat niemand met ‘n ANC kaart tronk toe gaan gaan nie.

Kokerboom ·

Voeg die R1 miljard by koste van staatskaping van konserwatief R1.65 miljard plus koste van vervolging dan is dit ‘n aardige bedrag wat op infrastruktuur bestee kon wees. Berei Robben Eiland voor en bêre al die skelms daar. Sluit al die huidige skelm kabinetslede ook toe. Oorsese besoekers kan dan betaal om na die klomp skelm ANC’s te gaan kyk. Kla ANC ook kollektief aan

Witbaard ·

Tronke is te klein vir al die skuldiges. Ek dink daar is duisende staats plunderaars

Swerwer ·

Verstaan 100% maar ongelukkig kan Ramaphosa nie alleen verantwoordelik gehou word vir stilswye nie want net so is die hele ANC/EFF Regering/Kader deel van die staatskaping wat onder Zuma was. Die EFF roem daarop vir “Economic” maar hul het nie die vaagste benul wat “Economic” beteken nie want hul ontwrig en vernietig sover hul gaan saam met die res van die ANC kader.

Oom ·

En nou moet die Duiwel die Satan aankla? Wanneer gaan dit ooit gebeur.

Oom ·

En nou moet die Vinkel die Koljander aankla? Wanneer gaan dit ooit gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.