Verwyder dié Benylin-hoesstroop van jou rak

(Foto: Nafdac)

Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) het twee besendings Benylin-hoesstroop vir kinders onttrek.

Dr. Boitumelo Semete-Makokotlela, uitvoerende hoof van Sahpra, sê die organisasie het op 10 April ʼn verslag van Nigerië se voedsel-en-medisyne-owerheid (Nafdac) ontvang oor hoë vlakke van diëtileenglikol in ʼn besending van dié hoesstroop.

“Sahpra het dadelik kontak gemaak met die Suid-Afrikaanse vervaardiger, Kenvue (voorheen Johnson & Johnson). Ná gesprekke met die vervaardiger en in die beste belang van die publiek is daar bepaal dat die betrokke besendings dadelik herroep sal word terwyl die ondersoek voortduur.”

Sahpra, in samewerking met Kenvue, het die besendings, met die kodes 329304 en 329303, geïdentifiseer.

Hierdie besendings is versprei na Suid-Afrika, Eswatini, Rwanda, Kenia, Tanzanië en Nigerië.

Benylin-hoesstroop vir kinders is ʼn helder, rooi stroop met ʼn framboosgeur. Dit word in amberkleurige glasbottels van 100 ml verpak. Dit word gebruik vir die verligting van hoes en ʼn bors wat toegetrek het. Dit word ook gebruik vir hooikoors en ander allergiese toestande in kinders tussen twee en 12 jaar oud.

“Sahpra wil die publiek aanraai om nie paniekerig te raak nie. Die saak word met hoë prioriteit hanteer,” het Semete-Makokotlela bygevoeg. “Die onttrekking hou met die spesifieke besendings verband en hou nie noodwendig verband met ander besendings of soortgelyke produkte nie.”

Sahpra benadruk die vervaardiger is ʼn Sahpra-gelisensieerde vervaardiger en “voldoen aan goeie vervaardigingspraktyke”.

Sahpra maan gesondheidsorgpraktisyns en die publiek om dadelik die gebruik van die twee betrokke besendings te staak en van rakke te verwyder.

Maroela Media het vroeër berig Kenia en Nigerië het Benylin-hoesstroop vir kinders, wat in Suid-Afrika vervaardig word, herroep.

Wat jy moet weet

Diëtileenglikol is giftig vir mense wanneer dit verbruik word en kan dodelik wees. Simptome sluit in maagpyn, vomering, diarree, onvermoë om te urineer, hoofpyn, gewysigde verstandelike toestand en akute nierprobleme wat tot die dood kan lei.

Enigiemand wat newe-effekte beleef of dit in kinders opmerk, moet dadelik ʼn dokter kontak en die gebruik aanmeld op die Med Safety-app. Jy kan ook ʼn e-pos stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.