VF Plus dien mosie in om droogtewet te hersien

droogte

Foto: Redcharlie/Unsplash.com

Wetgewing oor droogtehulp hou nie tred met die dringendheid van ernstige droogtesituasies nie en moet dringend hersien word, sê die VF Plus. Tammy Breedt, VF Plus se woordvoerder vir landbou en grondhervorming, sê langdurige droogtetoestande raak toenemend ʼn deel van die landboutoneel in Suid-Afrika en dat droogtehulp tot dusver nie doeltreffend was nie.

Die VF Plus het Donderdag ʼn parlementêre mosie ingedien waarin gevra word dat die regering erken die huidige stelsel van rampbestuur in droogtegebiede nie relevant of doeltreffend is nie.

Die mosie versoek ook dat die aangeleentheid verwys word na die portefeuljekomitees vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en dié van samewerkende regering en tradisionele sake om die huidige rampbestuursmodel te hersien en toepaslike wetgewing in te stel om doeltreffende ramphulp te verseker.

Die mosie lui voorts dat die regering:

  • Kennis neem van die huidige uitwerking van klimaatsverandering op Suid-Afrika en die huidige situasie van langdurige droogtes wat Suid-Afrika in die gesig staar.
  • Erken dat provinsies soos die Noord-Kaap met meerjarige droogtes te kampe het, wat voedselsekerheid en die lewensbestaan van miljoene bedreig.
  • Erken dat droogtehulp tans nie voldoende is nie en nie die beoogde begunstigdes bereik nie, terwyl ’n geraamde 32 000 poste jaarliks in die landbousektor verlore gaan en 1,2 miljoen huishoudings tans deur die langdurige droogtes geraak word.

Breedt sê die huidige proses om ʼn droogtegeteisterde gebied tot rampgebied te verklaar is omslagtig en dikwels traag. “In sekere gevalle waarvan die VF Plus bewus is, is droogtehulp wat in 2013 aangevra en goedgekeur is, eers in 2018 uitbetaal. In die belang van al die boere van Suid-Afrika en van voedselsekerheid, kan die situasie nie so voortduur nie en die VF Plus sal erns daarmee maak om die nodige veranderinge teweeg te bring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Tiaan ·

Dankbaar dat die parlement kan ingryp die Boere het alle hulp nodig

Hendrik ferreira ·

Ek verstaan dit nie die grootste deel van SA is omring deur oseane waarvan die grootste probleem stygende seevlakke is hoekom kan die see water nie ontsout word en binneland toe aangelê word deur pype of kanale nie die geld wat vir droogte hulp kan dan aangewend word vir ontsoutings aanlegte ?

aj ·

Goeie idee!

Dis net te duur? Produkte wat met sulke DUUR water produseer word sal teen onbekostigbare pryse verkoop moet word.

Die plase met skaapboerderye moet eerder omskep word in son- en windkrag aanlegte wat elektrisiteit opwek en verkoop. Dan maak droogtes nie saak nie.

humor ·

Hendrik jy is beslis nie n man van kleine denke nie. Jy dink groot,groot en wyd, baie wyd. Ons sal moet wag en sien hoe die tegnologie tot en met die volgende eeue sal ontwikkel.

Martin ·

Julle moet gaan kyk na die huidege toestand van die Victoria water valle om te sien hoe erg die droogte werklik is. Wat die regering betref hoe meer geld in ander plekke gebruik hoe minder vir hulle om te spandeer en in hul sakke te druk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.