VF Plus sê GP-premier het baie beloftes, min planne

David Makhura, Gautengse premier. (Foto: Simphiwe Mbokazi/ANA)

Die VP Plus sê Gautengse premier David Makhura se provinsiale rede was vol mikpunte, beloftes en drome, soortgelyk aan dié wat pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede uitgestippel het.

“Die VF Plus is egter bevrees dat hy nie een van die mikpunte sal behaal nie omdat hy omring is met onbevoegde mense wat meer in politiek belangstel as om die publiek te dien,” het adv. Anton Alberts, die VF Plus se lid van die provinsiale wetgewer, gesê.

Makhura het Maandag in Soweto sy provinsiale openingsrede gelewer.

Hy het onder meer gesê die ekonomie moet die volle uiteenlopendheid van die bevolking weerspieël en dat elkeen die reg op ʼn werk en ʼn behoorlike vergoeding het.

“Ons provinsie is Suid-Afrika se grootste ekonomie, Afrika se 7de grootste ekonomie en die 26ste grootste stadstreek ter wêreld. Ons het ʼn trotse plek in die wêreldekonomie waar stede en stadstreke al hoe meer aandrywers van groei en ekonomiese ontwikkeling word,” het Makhura gesê.

Hy het ook verwys na sogenaamde spesiale ekonomiese sones, onder meer vir die motorbedryf, wat beleggings moet help lok en werk in die provinsie moet skep.

Alberts sê die belangrikste kwessie tans ís die ekonomie, maar die premier is beperk rakende sekere aspekte van die ekonomie in die provinsie, want die ANC dikteer op nasionale vlak beleid wat ʼn negatiewe uitwerking het. Dit sluit in regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging.

“Hy [Makhura] het wel probeer om ʼn plan uit te stippel rondom beleggings wat na Gauteng gelok moet word, maar hy het glad nie inhoud daaraan gegee hoe hy beleggings gaan lok nie. Hy het meestal bloot ʼn inventaris gegee van bestaande besighede in Gauteng, soos motorfabrieke, wat bykomende beleggings gemaak het.”

Alberts sê Makhura het geen nuwe plan nie om beleggings te lok in ʼn omgewing waar daar op nasionale vlak gepraat word van onteiening sonder vergoeding van grond en ander eiendomsregte.

Hy sê Makhura se spesiale ekonomiese sones kan net met die toestemming van die minister van handel en nywerheid geskep word, wat weereens Makhura se hande bind.

Makhura het in sy toespraak gesê die provinsie het baie belê in die verbetering van die ekonomie en dat meer skole onder meer vir leerlinge met spesiale behoeftes gebou gaan word. Hy het ook opdrag gegee dat maniere gevind moet word om laerskole wat swak presteer, reg te ruk. Die LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, moet dié proses lei.

Alberts sê hoewel die premier heelwat planne uiteengesit het om die provinsie se onderwysstelsel reg te ruk, is dit jammer dat hy niks oor moedertaalonderrig genoem het nie.

“Die VF Plus wil nogtans ʼn pluimpie aan die premier gee rondom sy aandag aan landelike veiligheid. Die VF Plus het vroeër ʼn landelike veiligheidsplan aan die premier voorgelê en hy het in sy toespraak onderneem om aandag daaraan te gee en te sorg dat plaasmoorde aangespreek word. Dit is baie bemoedigend en die VF Plus sal hom herinner aan sy onderneming ten einde uitvoering daaraan te gee.

“Die onderneming maak van die premier ʼn staatsman in dié opsig en dit is meer as wat ons van die president kan sê wat hieroor geswyg het,” het Alberts gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

HM ·

Dieselfde beloftes oor en oor maar nog niks het ooit gerealiseer nie. EK gaan werk nie ……….. neem n probleem van die grond af , kyk hoekom het n plan gestop

Schalk ·

Ek glo geen politikus meer nie! Hoekom MOET die ekonomie die bevolkingsgroep weerspieel? Ek sou eerder verwag dat ons land moet die beste van die beste in besluitnemings posisie plaas. Hanteer die land soos ‘n besigheid en die groei sal almal verstom

koos ·

Hoe groei jy n ekonomie as jy wit minderhede met wetgewing beperk en dus teen hulle diskrimineer net oor hulle wit van kleur is skrap die wette,

Frm ·

Ek sien nerens waar mnr Alberts enige aanbod maak om die premier te onsersteun nie. Ons kan maklik fout vind met wat iemand anders se (soos ek nou) maar woon daar nie vf kiesers in daardie gebied wat die vf noop om sy planne te ondersteun nie.

Gert van Wierdapark ·

As ek nie die naam onder die foto gesien het nie, sou ek die pre-mier maklik vir n Nigeriese politikus/toeris kon aan sien! Miskien gaan dit die klere drag vir CR se droom-stad wees? Die arme laerskole wat nou die “hulp” van mini-ster Lesufi gaan kry om hul reg te ruk kan ek net se, sterkte vir die stryd!!

schaun ·

Stop ekonomiese selfmoord stop diskriminernde wette teen die witmense in suid afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.