Video: Eers ’n krokodil in ’n swembad, nou in die see

‘n Skermgreep uit die video.

As ʼn mens op die strand gaan kuier, wil jy moontlik ʼn paar krappies sien, ʼn vis en selfs dolfyne of walvisse wat in die golwe baljaar. Die laaste ding wat jy wil raakloop, is ʼn krokodil wat in die vlak golwe rondplas.

Annelies Masschelein, ʼn veldwagter by Makakatana Bay Lodge in St. Lucia, het die kaperjolle van so ʼn krokodil, wat die strand nie kon weerstaan nie, verlede week op video vasgelê. Dit is nie ongewoon om seekoeie te sien in dié gebied met sy pragtige riviermonding nie, maar ʼn yslike Nyl-krokodil wat op die strand loop, is beslis ʼn uitsonderlike besienswaardigheid.

Die groter St. Lucia-meer spog immers met een van die grootste bevolkings van Nyl-krokodille in ʼn enkele watergebied.

Masschelein het egter aan GoodThingsGuy.com gesê sy het nog nooit so iets in die gebied met sy oorvloed van seekoeie en krokodille gesien nie.

Sy het die krokodil van ver af op ʼn veilige afstand verfilm. Daar word vermoed die swaar reën kon daartoe bygedra het dat die krokodil op die strand beland het omdat riviere nou sterker vloei.

Only in St Lucia! #spectacular

Posted by Makakatana Bay Lodge – South Africa on Tuesday, February 2, 2021

Wilde diere het sedert die begin van 2021 op vreemde plekke ingeloer. Maroela Media het onlangs berig oor ʼn egpaar van Moedwil in Noordwes wat in Januarie die skok van hul lewe gekry het toe hulle ʼn krokodil in hul swembad gevind het.

Volgens die Wild Heart-natuurlewestigting het verskeie diere die koers byster geraak tydens die swaar reën wat deur sikloon Eloise veroorsaak is. Die stigting vermoed die krokodil kom van ʼn nabygeleë rivier.

Die ou grote is veilig uit die swembad verwyder en na ʼn veilige plek geneem, waarna hy in sy natuurlike habitat vrygelaat is.

Daar loop ʼn seekoei

Vroeër in Januarie het inwoners van Fourways, Johannesburg, ook regop gesit nadat ʼn seekoei hier opgemerk is.

Die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) help tans die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling (GDARD) om die seekoei met behulp van hommeltuie te monitor.

Constant Hoogstad, senior bestuurder by EWT, het aan Maroela Media gesê ʼn seekoei is laas by die Northern Farm MTB langs die N14-deurpad naby Krugersdorp gesien en is vermoedelik steeds daar in ʼn dam. Die swaar reëns van die afgelope week het die monitering bemoeilik.

Hoogstad sê egter seekoeie kuier eintlik al die afgelope sewe jaar gereeld in dié omgewing rond. Die EWT oorweeg dit nou om mettertyd ʼn opname van stapel te stuur om te bepaal hoeveel seekoeie in die provinsie woon.

Daar word vermoed die seekoei kon moontlik deur die rivierstelsel van die Hartbeespoortdam beweeg het, maar of dit presies dieselfde seekoei is wat ʼn paar keer in die landbouhoewes van Chartwell in Desember gewaar is, of dalk selfs die bekende Harpo van Hartbeespoortdam, is tans moeilik om te sê. Dit is egter nie vreemd vir seekoeie om groot afstande af te lê op soek na weiding nie.

Die duidelike foto van die seekoei wat tans by Northern Farm MTB in ‘n dam is. (Foto: EWT)

“Ons het nou uiteindelik ʼn duidelike foto van die seekoei en kan dit voortaan met ander beeldmateriaal vergelyk. Dit kan help om te bepaal of die seekoei by Northern Farm dieselfde een is van Chartwell en Hartbeespoortdam,” het Hoogstad bygevoeg.

Die seekoei sal na verwagting na sy of haar oorspronklike gebied terugtrek, maar intussen bied die EWT lugmoniteringondersteuning aan bewaringsowerhede om die veiligheid van die seekoei en gemeenskappe langs sy trek te verseker.

Hoogstad sê die EWT het ook van inwoners gehoor wat in dié tyd seekoeie in Dullstroom, Mpumalanga, gewaar het.

Inwoners kan enige besigtigings van die seekoei in Gauteng by GDARD se wetstoepassingsbeampte, Erasmus Nkabinde, by 071 257 7481 aanmeld of by Hoogstad by 082 334 4176.

“Dit is egter noodsaaklik dat lede van die publiek altyd ʼn veilige afstand van die seekoei handhaaf om die seekoei en hulleself te beskerm,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans ·

Suid Afrika is gelukkig dat die Nyl-krokodil nog nie soos Australie by die soutwater aangepas het nie.
Die soutwaterkrokodil os die grootste reptiel op aarde en kon tot 6.5 neter lank word en meer as ‘n 1000kg weeg.
Die drppyste Afrika krokodil was 6.17 meter en het ongeveer 750 kilogram geweeg, Die krok in die foto het seker besluit om ‘n bietjie in die branders te speel.

Marina ·

Dit is die voorreg van die Bosveld, om hierdie diere in hulle natuurlike habitat te sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.