Video: Ellelange mamba op Durbanse strand gered

Jason Arnold hou die swart mamba vas (Foto: The Snake Man – Jason Arnold, Facebook)

Vissermanne het Donderdagmiddag verstom gestaan oor die ellelange slang wat op die Glenashley-strand in Durban uitgespoel het. Dit was egter nie sommer net ʼn gewone seeslang nie, maar ʼn swart mamba van 2,3 m lank.

Dit is boonop die tweede swart mamba wat die afgelope ses maande op ʼn Durbanse strand uitspoel.

Nadat die slang op die strand uitgespoel het, het een van die vissers die bekende slangvanger Jason Arnold inderhaas gebel omdat hulle vermoed het dit is moontlik ʼn swart mamba.

“Die visserman het vir my ʼn foto gestuur en ek het bevestig dat dit wel ʼn swart mamba is,” vertel Arnold.

“Op pad na die strand het die visserman my weer gebel en gesê dat ʼn groot golf gebreek het en die slang weer diep in die see ingetrek het. Ek het vir hulle gesê om die slang dop te hou tot ek kom.”

Teen die tyd dat Arnold by die strand opgedaag het, het die mamba reeds weer uitgespoel. “Dit was maklik om die slang te vang, want sy was redelik uitgeput ná die swemmery.”

“ʼn Dapper jong vrou het my gelukkig gehelp om die slang se lyf in die lug te hou terwyl ek haar kop saggies na onder gehou het om die water wat sy gesluk het, uit te kry.”

Arnold vertel elke keer dat die slang asemgehaal het, kon hy die gorrelgeluid van die water in haar longe voel. “En met elke asemteug sou daar ʼn bietjie water uit die slang se bek loop.”

Nadat hy al die water uitgekry het, het hy die slang in ʼn groot duvetoortreksel gesit.

Hy het die wyfiemamba van ongeveer 2,3 m lank huis toe geneem en hou haar eers daar vir waarneming tot sy goed genoeg aangesterk het om weer in die natuur vrygelaat te word.

Arnold sê hy vermoed die slang het tydens Dinsdag se stortreën met ʼn stormwaterpyp – wat regstreeks na die strand lei – afgespoel.

Hy sê dit is ʼn baie seldsame verskynsel om ʼn slang op ʼn strand te sien.

“Dit gebeur van tyd tot tyd. Meestal is dit weens swaar stortreën. Of telkemale het slange al in voertuie se onderstelle geklim en só op die strand beland.”

Arnold het die vissers bedank wat hom laat weet het, asook vir Ryan Taylor, ʼn verbyganger, wat ʼn video van die redding geneem het. “En natuurlik, dankie aan die jong vrou wat my gehelp het om die water uit die slang se longe te kry.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Roedolf Johannes ·

Alle dank aan die Visserman wat die Slangevanger ontbied het.Die normale mens wil elke slang vrekmaak wat hulle sien
Dankie Visserman

Adam Adriaan ·

Bietjie ver vanaf die mamba koninglike paleis Groot Marico

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.