Video: Gewelddadige protesaksie op UV-kampusse

(Foto: Uhthred of Ragnarson/Twitter)

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) sê klasse en aktiwiteite op sy drie kampusse sal soos normaal voortgaan ondanks protesaksie.

Lacea Loader, woordvoerder van die UV, sê sporadiese ontwrigting van akademiese aktiwiteite het Dinsdag en Woensdag op die Bloemfontein-, Suid- en Qwaqwa-kampus van die UV voorgekom.

Studente is glo ongelukkig oor die vertragings in NSFAS-betalings.

Skade aan die landbougebou op die UV-hoofkampus (Foto: Verskaf)

AfriForum Jeug het van sy lede op die UV se hoofkampus verneem dat ʼn groep gewelddadige betogers geboue op kampus met klippe bestook het terwyl studente in die geboue besig was met akademiese verrigtinge. Dié studente het gesê hulle voel onveilig op die kampus.

“Ons was in die landbougebou toe ons die gedreun hoor. Daar is vir ons gesê om onsself toe te sluit voordat hulle by ons uitkom – ons was ontsettend bang,” vertel Anlé Spies, ʼn tweedejaar landboustudent.

Volgens Loader het die universiteit se bestuur die afgelope paar weke verskeie pogings aangewend om die kampusse oop te hou vir leer en onderrig te midde van uitdagings wat ondervind word met die uitbetaling van studente se NSFAS-betalings deur eZaga, ʼn aanlyn digitale bankdiens, met die taak om direkte betalings aan NSFAS-begunstigdes te versprei,” bevestig Loader.

“Hierdie pogings sluit in, maar is nie beperk nie tot die bywoning van vergaderings deur UV-verteenwoordigers met NSFAS, gereël deur Universiteite Suid-Afrika (USAf), vergaderings met NSFAS bygewoon deur prof. Francis Petersen, UV se visekanselier en rektor, konstante verbintenisse met NSFAS deur die universiteit se finansiële hulpkantoor, ʼn vergadering met die minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie, dr. Blade Nzimande, en voortdurende skakeling met die institusionele studenteraad (IVSR) oor sake rakende NSFAS,” sê Loader.

“Hierdie pogings is egter nie vir ons studente aanvaarbaar nie.”

[Foto: Sbahle Dayimani/Twitter]

Loader sê om die risiko vir die akademiese program te minimaliseer, asook die feit dat dit ʼn uitdaging in die hele tersiêre onderwyssektor is, sal die akademiese program (aktiwiteite, klasse en werkopdragte) van 2 tot 4 Augustus 2023 aanlyn geskied.

“Die universiteit is nie gesluit nie; alle ander aktiwiteite sal normaalweg voortgaan. Alle kampusse is ook toeganklik. Die situasie op die kampusse word fyn gemonitor en die nodige veiligheidsmaatreëls is getref om die veiligheid van studente en personeel te verseker.”

AfriForum Jeug doen ʼn beroep op die UV se bestuur om streng op te tree teen studente wat hulself skuldig maak aan gewelddadige protesaksie.

“Die Universiteit van die Vrystaat se bestuurspan moet ernstige tugstappe doen teen die skuldige studente en ʼn saak van saakbeskadiging behoort gemaak te word vir die vandalisering van die geboue,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

“Dit is onaanvaarbaar en as jeugorganisasie sal ons met die universiteit in verbinding tree om te verseker dat akademiese verrigtinge op kampus belangriker geag word as gewelddadige politieke aksies. Dit is nie volhoubaar om elke keer klasse op kampusse op te skort sodra protesaksies gewelddadig raak nie. Onskuldige studente word gestraf weens die misdadige optrede van ʼn klein groepie.”

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

E-lad nanna ·

Ek het na die laaste week my hoop in Suid Afrika verloor. Ja sal nie hier wen tensy jy geweld met geweld ontmoet nie

Harley Davidson ·

Ek wens hulle vernietig elke universiteit in Suid-Afrika, akademia sal dan die enigste universiteit wees wat hoër onderrig kan voorsien met die gepaardgaande reëls en regulasies.

Laksman ·

Hulle ook dan daar verjaag soos wat die knape by EFF huis verjaag was.

Raakvatter ·

Vra ek ook Ruby. Hulle is kwaad vir NSFAS, nou beskadig hulle die universiteit se infrastruktuur. Ander dag kry hulle wel hul geld, dan wat? Lokale beskadig, dan protes hulle weer. Kan net my kop skud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.