Video: Hiënas vreet bok buite villa

‘n Skermskoot uit die video.

Waarskuwing: Die inhoud van die video kan sensitiewe kykers ontstel.

Buitelandse gaste by ʼn wildsreservaat in Hoedspruit was Dinsdag stomgeslaan toe ʼn hiëna ʼn jong koedoe voor hul villa venster gevang en opgevreet het.

Volgens Monique Moore, bestuurder by King’s Camp Private Game Reserve, het die voorval om 22:00 gebeur nadat die gaste aandete in die boma geniet het. Dit was glo hul eerste aand in die reservaat.

“Ons het ʼn hiëna om die boma sien rondhang, maar dit is normaal vir hiënas om in die omgewing te wees ná ete omdat die braaivleisgeur hulle lok. ʼn Paar minute nadat die gaste by die villa in is om hulle drankies klaar te maak het hulle ʼn slag teen die skuifdeur gehoor. ʼn Jong koedoe het teen die glas vasgehardloop. Hy het gesukkel om te loop en het ʼn ruk lank rondgegly,” sê Moore.

Een van die gaste, Mike Owens, het kort daarna ʼn video van die koedoe begin neem. Mike en sy vrou, Stacy, het saam met hul nefies, Weston en Wyatt Behlen, kom vakansie hou uit die VSA. “Mike was die een wat afgehardloop het nadat hy die slag teen die glasdeur gehoor het. Hy het gedink sy nefies breek die plek af,” lag Moore.

“Die gaste was nog besig om te grap dat ʼn roofdier die koedoe gaan vang toe ʼn hiëna uit die bloute die koedoe aan die nek gryp. Die oomblik toe die hiëna se kake om sy nek sluit, het die koedoe geen kans op oorlewing gehad nie.”

Nadat Owens die opname beëindig het, het die hiëna glo die koedoe teruggesleep tot by die kamerdeur van een van die gaste.

“Die gaste kon heel aand die gekraak van bene hoor, asook ander hiënas wat saam ‘lag’ terwyl hulle hul aandete geniet.”

Volgens Moore het van die gaste eindelik na ʼn ander kamer in die villa geskuif omdat hulle die geluide “onstellend” gevind het.

Die volgende oggend, net voor hul safari-rit, het hulle op die koedoe se bloed en ingewande afgekom.

“ʼn Mens kon sien dat die koedoe later in die bos ingesleep is. Die voëlbad was ook vol bloed waar die hiënas water gedrink het,” sê sy.

Die gaste en ook van die personeel was verstom om so ʼn seldsame gebeurtenis in die kamp te aanskou.

Die reservaat het elektriese omheining rondom die kamp, maar volgens Moore is dit net om groter diere soos olifante en seekoeie uit te hou. Bokke, hiënas en luiperds is egter gereeld in en om die kamp wanneer dit donker word.

“Aanvanklik het ek gesukkel om na die video te kyk want die diere in die reservaat beteken so baie vir my, maar op die ou end kan ons nie by die natuur ingryp nie, al wil ons. Dit is steeds merkwaardig om te sien dat die hiënas vir hul eie kos jag, aangesien hulle gewoonlik net die oorblyfsels van die leeus of luiperds se kos eet,” sê Moore.

Owens en sy familie sal na verwagting Saterdag terugkeer na Nebraska in die VSA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Misky ·

Wonderlike advertensie vir King’s Camp en lekker om te weet so baie diere naby die kamp.

Tanniepetoors ·

Lyk vir my na baie jong lam, waarskynlik pasgebore of paar dae oud. Ek mag verkeerd wees, ek is geen wildkenner nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.