ʼn Mens kan bykans nie anders as om asem op te hou nie. Die klein dwergkeeshond (Pomeranian) tuimel in die swembad en spartel verbete – maar onsuksesvol – om uit te kom. Maar net tot die 13-jarige Chucky se beste maat, ʼn sewejarige Staffie genaamd Jessie, besluit tot hier toe en nie verder nie: Vandag is hier ʼn reddingspoging van epiese afmetings.
Byron Thanarayen, van Atlasville in Boksburg, sê hy en sy vrou, Melissa, het Vrydag ʼn afspraak nagekom en die twee honde het tuis gebly. Hulle het ʼn venster waardeur hulle kan klouter om in en uit te gaan wanneer die egpaar nie tuis is nie.
Byron sê met hulle terugkeer het hulle gesien Chucky se kop is nat, maar die res van sy lyf is droog. Hulle het oral in die huis gesoek – en selfs die toilette van nader bekyk – om te probeer vasstel waar die water dalk vandaan kon kom.
Melissa het daarna besluit om na die huis se kringtelevisiebeeldmateriaal te kyk om te probeer uitvind wat gebeur het.
“Terwyl ons daarna gekyk het, selfs terwyl ons geweet het hy is veilig, was dit vreeslik moeilik om te sien,” het Byron Sondag gesê.
Die egpaar het die video van Jessie se ongelooflike reddingspoging op sosiale media gedeel en dit is sedert Vrydag duisende kere gedeel. Meer as 160 000 mense het reeds daarna gekyk.
Byron sê die gesin woon al sowat vyf jaar in hulle huis en die honde kom gewoonlik nie naby die water as die egpaar nie tuis is nie. Hulle gaan egter vandeesweek nog ʼn swembadseil laat installeer om enige toekomstige ongelukke te verhoed.
Byron sê enkele mense het geniepsige opmerkings gemaak omdat daar nie ʼn bedekking oor die swembad was nie, maar die meeste mense het in hul vreugde gedeel dat Chucky gered is. Daar was natuurlik ook groot lof vir Jessie wat net nie moed opgegee het tot haar maat weer veilig was nie.
Byron het Jessie as ʼn tweejarige hond by die Dierebeskermingvereniging aangeneem. Hy sê hy was teen daardie tyd die derde persoon wat haar aangeneem het. “Ek was dadelik verlief en sy is die beste hond wat ek nog ooit gehad het. Sy is absoluut verstommend.”
Chucky is intussen weer sy ou self.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
19 Kommentare
Hond is nie net mens se beste vriend maar ook Hond s’n. Ongelooflik.
Gelukkige einde, maar hierdie geval is tipies. Daar moet eers iets gebeur voordat mense tot insig kom. Dit geld ook vir veiligheids- gordels en stoeltjies, asook alarm stelsels.
Give that dog a Bell,s
sterkte vir kleintjie, ‘n mens kan sien dat die hondjie was al pootuit, gelukkige einde
Baie dankie vir die deel…so mooi om iets goeds te sien gebeur ….ons kan iets leer van die prag dier…..OMGEE