Video: Inspirerende Afrikaanse vroue deur FAK vereer

Lizz Meiring, René Roux, Brümilda van Rensburg en Elphi Taljaard. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Ek dink enige vrou met verbeelding, visie, ʼn tikkie rebellie en wat nie net iets aanvaar omdat dit die status quo is nie, is ʼn inspirasievrou in my oë.”

Met dié boodskap het die gewilde Afrikaanse aktrise Lizz Meiring onlangs die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Inspirasievrou-toekenning tydens ’n damesoggend ter viering van Vrouemaand ontvang.

Die aktrise Brümilda van Rensburg sowel as vroue uit die FAK-kultuurnetwerkgemeenskap, René Roux van Helpende Hand en Elphi Taljaard van die Dameskring, is elkeen ook tydens die geleentheid met dié toekenning vereer.

Irma Joubert, die bekende Afrikaanse skrywer, het ook dié toekenning ontvang, maar kon nie self die damesoggendfunksie bywoon nie.

Dit is die tweede keer wat die FAK se kultuurnetwerke die Inspirasievrou-toekenning oorhandig en die vroue is deur die kultuurnetwerke genomineer om die toekennings te ontvang. Volgens Barry Müller van die FAK se kultuurnetwerke is dit vir die organisasie ’n groot voorreg en plesier om vroue van hierdie kaliber te vereer tydens Vrouemaand. “Die vrou se rol in ons geskiedenis en ons toekoms moet nooit onderskat word nie. Dit is hoekom dit van kardinale belang is dat ons die sterk Afrikaanse vroue van vandag moet vereer en hul leiding volg.”

Lizz Meiring. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Meiring het tydens haar toespraak by die funksie hulde aan vroue soos Sybil Visagie en die ander Noord-Kaapse boervroue van die droogtehulp-organisasie Save the Sheep, asook haar vriendin, Heidi Bothma du Toit, wat ʼn kostuum- en modeontwerper is, gebring.

“Ek waardeer en respekteer enige vrou wat haar opreg uitleef en ander sowel as haarself deur haar talente, vermoëns en unieke ‘bedrading’ kan dien en gelukkig maak.”

Van Rensburg het haar toekenning as ʼn “heilige ervaring” beskryf en het hulde aan haar ouers gebring vir die rol wat hulle in haar lewe en vrouwees gespeel het.

Vir haar maak ʼn vrou se onwrikbaarheid, medemenslikheid én kwesbaarheid van haar ʼn inspirasievrou. “Vroue met wie ek daagliks te doen kry – soos my persoonlike assistent, Lizzie – inspireer my. Ons leer en groei deur en by mekaar.”

Haar boodskap aan vroue hierdie Vrouemaand is om hul unieke skoonheid te omarm, hul plek in die samelewing vol te staan en nie toe te laat dat ander hul kwesbaarheid misbruik nie.

René Roux saam met haar ma, Corlia Smith. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Roux, wat tans die adjunk- uitvoerende hoof by Helpende Hand is en ook by die FroueVonds asook die Susanna Smit Studiefonds betrokke is, het die oggend saam met haar ma, Corlia Smith, geniet.

“Ek is so dankbaar dat my ma, wat my eie inspirasievrou is, al die pad van Swellendam af kon kom om hierdie dag saam met my te geniet. As dit nie vir haar was nie, sou ek nie die vrou gewees het wat ek vandag is nie.”

Sy voeg by dat dié toekenning haar opnuut inspireer om nog harder te werk en nog meer in haar roeping te doen.

Elphi Taljaard, tans president van die Dameskring – ʼn organisasie wat vroue inspireer en bemagtig om ook ’n verskil in hul gemeenskap te maak – het op haar beurt gesê dat Afrikaanse vroue deur die eeue vanweë hul geskiedenis karakter gebou het.

“Afrikaanse vroue is as gevolg van hul geskiedenis gedwing om gedurig aan te pas. Ons is ook dinamies en is geestelik en fisiek sterk omdat ons baie keer dinge moes laat gebeur, selfs met min of uiters beperkte hulpbronne tot ons beskikking. Daarom kan ons hande vat en uitreik na die breër gemeenskap, brûe bou en sodoende ʼn verskil in ons land maak.”

Haar inspirasie is ’n vrou vanuit die Bybel – Ester.

“Ester het die Here gedien. Sy het ’n roeping gehad, was diensbaar en is tot koningin vereer.”

Kyk die video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.