Video: Kankeroorwinnaars gevier met spoggerige tee

Elza-Marié van Lille wat borskanker oorwin het. Haar jongste dogter met Down se sindroom is hierdie jaar met leukemie gediagnoseer. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Kanker kan oorwin word, met genade van Bo en vriende om jou wat jou ondersteun.”

Dit is die woorde van Elza-Marié van Lille wat borskanker oorwin het. Haar jongste dogter met Down se sindroom is hierdie jaar met leukemie gediagnoseer.

Elza-Marié is een van die 1 200 gaste wat Woensdag die jaarlikse spogtee van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) bygewoon het. Die geleentheid is by die Heartfelt-arena in Thaba Tshwane, Pretoria, aangebied.

Die motiveringspreker Naniki Seboni, wat velkanker gehad het en nou ʼn vrywilliger by Kansa is, het almal in die gehoor gevra om op te staan indien hulle al met die siekte gediagnoseer is of indien hulle ʼn geliefde of vriend het wat kanker gehad het. Uit die gehoor was daar slegs ʼn handjievol mense wat nie opgestaan het nie.

“ʼn Dag soos vandag laat jou net opnuut besef hoe belangrik dit is om mense te hê wat saam met jou hierdie pad stap. As jy in hierdie situasie is, voel jy dikwels jy is die enigste een en niemand weet waardeur jy gaan nie,” sê Elza-Marié.

Sy weet hoe dit voel as jy die woord kanker vir die eerste keer hoor en dit is jóú diagnose.

“Jy voel dit is die einde van jou pad. Dit voel of daar geen hoop is nie, maar ek dink die probleem is ons weet eintlik net nie dat daar tog hoop is nie.

“Kyk, as jy kanker vroegtydig kan opspoor, kan jy vinniger deur die siekte werk. Ek het my pad geloop, dit was nie maklik nie, maar ek is hier vandag.

“Ek dink ons almal moet besef daar is altyd hoop, selfs met ʼn siekte soos kanker. Die pad is moeilik, maar die son sal weer skyn. Ek sien dit ook nou weer met my dogter.”

Anita Snyders, Kansa se nasionale volhoubaarheidsbestuurder, beaam dat ʼn kankerdiagnose sekerlik van die hardste woorde is om te hoor. Dit is waarom die organisasie juis vanjaar op die tema Denim en Diamante vir dié tee besluit het.

“Ons wil die gees en sprankel van kankeroorwinnaars met hierdie tee vier.

“Sonder die gemeenskap se bydrae op ʼn dag soos vandag kan ons organisasie nie voortgaan met ons werk van navorsing, opleiding en ondersteuning nie. Boonop is dit ook ʼn wonderlike geleentheid om ons gemeenskap bymekaar te kry.”

Daar is by die tee ʼn beroep gedoen op almal om hande met ʼn organisasie soos Kansa te vat en saam te veg teen kanker. Veral met oorweldigende statistieke van 20 miljoen nuwe kankergevalle jaarliks en 10 miljoen kankersterftes wêreldwyd.

“Volg ʼn gesonde leefstyl; kyk na wat jy eet en drink, gaan vir die nodige ondersoeke en oefen,” sê Anita.

Maroela Media was ook weer vanjaar ʼn mediavennoot van Kansa. Volgens Susan Lombaard, uitvoerende hoof, is dit vir Maroela Media belangrik om by ʼn funksie soos hierdie betrokke te raak, juis om sy lesersgemeenskap te ondersteun.

“Maroela dra dikwels die stories van ons lesers wat self teen kanker veg. Dit is ʼn siekte waarmee ons lesers bekend is en daarom wil ons graag saam met hulle hierdie pad stap.”

Susan, wat ook een van die beoordelaars van die tafels by die tee was, sê dit was opmerklik om te sien hoe gasvroue en ‑here hul hart en siel in die dek van die tafels gestort het.

“Daar was ʼn egtheid en diepte aan vanjaar se tafelversierings wat my beïndruk het. Die tafels het stories vertel en ʼn mens kon sien die gaste het die kankerpad verstaan.”

Dit was duidelik uit die tee dat mense wat met kanker gekonfronteer word, geloof gebruik om hulle te anker vir die stryd wat met die siekte voorlê.

“Ek glo dit is iets wat ook eie is aan ons gemeenskap. Geloof is nie net vir ons ʼn gewoonte nie, dit is deel van ons lewe en wie ons is. Ons dien ʼn God wat wonderwerke kan doen en ʼn God wat ʼn plan met alles het. Dit is iets wat ek ook tans in my eie lewe ervaar. Daar is altyd ʼn plan, God laat dinge toe wat ʼn getuienis in ons lewe en ander mense se lewens kan word.”

  • Besoek Kansa se webwerf vir meer inligting oor die dienste wat die organisasie bied of om hulle te ondersteun.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.