Video: Minke slyp haar tande vir Wêreldkampioenskap

Minke Janse van Rensburg en haar mede-swemmer Savanna Haselau. (Foto: Verskaf)

Deur Alet Engelbrecht

Minke Janse van Rensburg, verlede jaar se gestremde sportvrou van die jaar, is oorgehaal om weer vanjaar ʼn rits goue medaljes by die Wêreldswemkampioenskap in Turkye in te oes.

Haar skoolmaat, Savanna Haselau, maak boonop gereed om vir die heel eerste keer aan dié kompetisie deel te neem.

Albei het Down se sindroom en is leerders aan die skool Ups with Down’s in George. Hulle het die afgelope weke ure in die swembad deurgebring om seker te maak hulle is gereed vir die toernooi wat op 21 Maart afskop.

Minke het die afgelope ses jaar reeds vyf wêreldrekords opgestel en 89 goue medaljes gewen.  Net verlede jaar het sy agt medaljes by die Downsindroom- Europese Kampioenskap in Padova in Italië verower.

Sy hou tans die 50 m- en 100 m-wêreldrekord vir vryslag in ʼn 50 m-swembad.

Minke se pa, Hennie Janse van Rensburg, vertel albei meisies is fiks en die finale afronding word nou aan hul swemslag in die onderskeie items gedoen. Ná die daaglikse swemsessies van 90 minute, oefen die meisies saam met biokinetici om hul spiere en soepelheid te versterk.

Die kampioenskap behels ʼn vol program vir vyf dae en met vyf swemmers van Suid-Afrika wat gekwalifiseer het, is daar genoeg lede om aan die aflosse deel te neem. Iets wat die swemmers baie geniet.

Minke Janse van Rensburg en haar pa, Hennie. (Foto: Alet Engelbrecht)

Hennie vertel dat Minke baie gefokus is as sy aan so ʼn toernooi deelneem. “Sy laat haarself geen vermaak of ontspanning toe nie, maar as die toernooi verby is, geniet hulle hul gate uit.”

Danksy die welwillendheid van ʼn inwoner van George, is die meeste van dié twee se uitgawes vir die toernooi boonop gedek.

Savanna het maar net ʼn jaar gelede begin swem nadat haar ouma, Elsa Davids, Hennie gekontak het. Sy het van Minke se swemprestasies te hore gekom en wou weet hoe hulle Savanna ook aan die swem kon kry.

Davids, wat in Groot-Brakrivier woon, ry elke middag deur om Savanna by die swemskool te kry en neem haar oor naweke na swemgalas toe.  Savanna se ouers bly in KwaZulu-Natal. Hennie sê Savanna se vordering is geweldig goed. “Sy is veral sterk in borsslag en vryslag en kan in ʼn hele paar verskillende kodes by die kampioenskap deelneem.”

Heinrich Muller, ʼn driekampatleet, het soveel bewondering gehad vir dié jong swemmers dat hy ʼn fondsinsamelingsprojek van stapel gestuur het om Minke en Savanna se reis- en inskrywingskoste vir die kampioenskap te help betaal.

Op Saterdag 4 November het hy vroegoggend by die Wolwedans‑dam in Groot-Brakrivier begin en 10 km in ses verskillende mere in die Tuinroete geswem. Tussenin het hy boonop 100 km per fiets afgelê, voor hy die roete in Knysna voltooi het.

Hy het genoeg geld ingesamel om meeste van Minke en Savanna se uitgawes te dek.

Die geld is ingevorder vir die nuutgestigte Down Sindroom Sportorganisasie Suid-Afrika (DSSO-SA), ʼn nie-winsgerigte entiteit wat geaffilieer is by Down Sindroom Internasionale Swemorganisasie (DSISO). Hennie verduidelik die organisasie is gestig toe hulle in April verlede jaar nie twee van Minke se wêreldrekords kon registreer nie.  By navraag is hulle meegedeel dat die federasie wat sport vir intellektueel gestremdes in Suid-Afrika verteenwoordig en beheer, SASSAII, net sportkodes finansieel ondersteun wat verteenwoordigend is van die bevolking.

“Met geen organisasie of federasie om ons swemmers te ondersteun nie, is die DSSO-SA gestig. Ons het Minke se twee wêreldrekords toe by DSISO geregistreer.”

Minke se ma, Aletta, is voldag doenig by ʼn kleuterskool in die omgewing, en pa Hennie is die een wat meestal langs die swembad is, terwyl Minke oefen of aan kompetisies deelneem.

Hennie vertel: “Ons as ouers weet ons dit is belangrik om vir ons kinders ʼn toekoms te help skep. Die swem- en sportoefeninge wat Minke en Savanna doen, is baie goed vir hul lewensgehalte. Hulle het nou vertroue in hul liggame en kan soveel ander aktiwiteite doen soos stap en bergklim.” Savanna vertel sy sien baie uit na die kampioenskap in Turkye. Sy is veral bly dat haar ma, Lynn, langs die swembad gaan wees terwyl hulle gereed maak vir die verskillende items.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.