Video: Oom olifant, jou reusedier!

Toeriste het ‘n noue ontkoming met ‘n olifant gehad. (Foto: skermgreep)

ʼn Noue ontkoming met ʼn woedende olifant het toeriste omtrent die (nare) ervaring van ʼn leeftyd besorg.

In ʼn video wat dié week soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het, word daar gesien hoe dié olifant ʼn wildkyktrokkie in die Pilanesberg-wildreservaat in die Noordwes ʼn paar keer oplig en weer laat sak.

Die bestuurder en gids probeer dan tevergeefs die olifantbul verjaag deur op sy deur te slaan, voordat Oom Olifant uiteindelik besluit tot hier toe en nie verder nie.

“Dit lyk soos ʼn prettige safari,” het een sosialemediagebruiker in die kommentaarafdeling gesê. “Ek wens ek was daar. Die olifant het die trokkie rondgeruk soos op ʼn tuimeltrein!”

Ander was weer verstom oor die olifant se krag en dat hy dit reggekry het om die voertuig sonder enige moeite op te lig.

“Die natuur is beeldskoon,” het een persoon gesê, terwyl ʼn ander bloot gemeen het dat “natuurskoon beskerm en gerespekteer” moet word.

In ʼn ander video wat uit die oogpunt van ʼn ander trokkie geneem is, kan gehoor word hoe die gids skree en geheel en al uit sy stoel gelig word soos wat die olifant die trokkie oplig.

Uiteindelik blaas die olifant die aftog en loop terug in die bosse in.

Dit is nie bekend wanneer hierdie voorval plaasgevind het nie.

Kyk die video hier:

@krugermagazine

♬ original sound – Kruger Magazine

Kyk die video vanuit ‘n ander oogpunt hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Leeubekkie ·

Daai oom Olifant wou nie speel nie, hy was de dinges in. So bly hulle was almal OK. Sjoe!

Casper ·

Leeubekkie,dit was gewis nie ‘n skynaanval nie en laat my opnuut besef hoe sterk die dier regtig is.’n Lebombo ysterhouboom wat nie eers deur ‘n bulldozer ontwortel kan word nie,word deur ‘n olifant omgestoot.

Delia ·

Ek sien eintlik nie die snaaksigheid in dit nie.
As die olifant iemand sou aanval, sou hy geskiet word. Die gids was hopeloos te na aan die dier

Danie ·

Heelwaarskynlik nie die eerste maal dat die olifant die besondere voertuig en dalk die drywer tee kom nie. Ek vermoed die olifant het ‘n appeltjie te skil gehad na ‘n vorige onderonsie met die voertuig en/of die drywer. Ek is meer seker dit is die drywer.

Bostoe ·

Janee, hier kom die “experts” alweer. @Delia en @Danie, daai voertuig was nog skaars uit die kamp toe die voorval plaasvind. Wilde diere is baie onvoorspelbaar en ‘n groot olifant kan jou bitter vinnig verras en uit die niet verskyn. Die olifante in Pilanesberg het ‘n geskiedenis van voertuie en renosters aanval en rondstoot. @ Danie jy maak maar baie fyn verskuilde aannames oor die gids. Ek dink hy het die situasie glad nie sleg hanteer onder omstandighede nie.

Cornelia ·

Dit het plaas gevind By Rathlogo Bird Hide in Pilanesberg,ons gaan gereeld soontoe en telke male is die heinings omgestoot deur hierdie ongelooflike diere,my man was eenmaal oppad na ons motor in die eindste parkeer area toe staan een tussen die motors.

Delia ·

@Bostoe…so mens ry nog n bietjie vorentoe as jy die olifant teekom en sê vir hom om pad te gee. En toe die olifant regs in die bos ingaan, gaan die drywer weer in trurat en stop weer om die olifant te besigtig. N Drywer met verstand sou so gou as moontlik wou wegkom van n onvoorspelbare olifant. Na 2 dekades van Wildtuine besoek weet ek hoe ry hierdie manne. En ek sê weer as iemand beseer was, word die diere gewoonlik geskied.
En ek is geregtig op my opinie nes jy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.