Video: Parys-oorstromings ‘ergste in 50 jaar’

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Dit voel soos ʼn herhaling van die 1975-vloede toe die water tot by ons huis se grasperk opgestoot en my skoonpa op sy stoep gesit en visvang het.”

Só het Rina Joubert, eienaar van die Romer’s Rest-gastehuis in Parys in die Vrystaat, Dinsdag vertel. Sy het self op haar stoep sit en kyk na die modder op haar motoroprit, wat al deur die son hard gebak is. Dit is al wat oorgebly het van die oorstroomde Vaalrivier se water wat ʼn dag tevore nog daar gelê het.

“Party mense sê dit is selfs erger as toe die Vaalrivier in 1975 oorstroom het. Vir my is dit beslis erger as die groot vloede van 1995 en 2011,” vertel Joubert.

Ananda en Herman van der Schyff het die 1975-vloede eerstehands ervaar en sê dit voel “soortgelyk”. Die water het destyds tot by dié paartjie se voordeur opgestoot, met hul lapa en swembad wat heeltemal onder water was.

“By die 1919-hangbrug lê die watervlak nou twee trappies laer as wat dit in 1975 gelê het. As die rivier verder opstoot, kan dit heel moontlik daardie vlak verby vat,” vertel Ananda.

Volgens Lee-Ann le Roux, eienaar van die Smilin Thru Resort, het die water beslis die vloedlyn van 1975 op die oord verbygesteek. Dié oord het groot skade gely. Die restaurant, 12 selfsorg-chalets en ʼn 700 000 liter-swembad is onder water. Die restaurant se fondament begin ook weens die water sak en volgens Le Roux gaan besigheid moontlik vir drie maande stilstaan.

“Dit gaan miljoene kos om alles weer van voor af op te bou,” vertel Le Roux.

Ander lodges en vakansieoorde in die omgewing – soos The Dell-vakansieoord, die Rocky Ridge-lodge en Otters Haunt – sit in dieselfde bootjie.

Carina Serfontein, DA-raadslid van die Ngwathe- plaaslike munisipaliteit, sê dit is nog te vroeg om te sê of dié vloed wel erger as die een in 1975 is.

Die water het teen Dinsdag al ʼn hele ent teruggetrek soos die reën effens skietgegee het. Die reuk van rivierwater het wel nog sterk in die lug gehang en dooie babers en paddas het die strate vol gelê.

Voorbereiding vir ʼn vloed

Inwoners vertel hulle kon Saterdagaand nie ʼn oog toemaak toe hulle in kennis gestel is dat die rivier se watervlakke begin styg het nie.

Sandsakke is gepak en kosbare meubels na veiligheid geskuif ter voorbereiding van ʼn moontlike vloed. Party inwoners was genoop om hul woonplekke te ontruim en van die gastehuise en lodges het hul gaste ook laat ontruim.

“Ons het elke halfuur met ons flitsie in die donker geloop en na die watervlak gaan kyk,” vertel Joubert.

Judith van Niekerk het met haar geliefde hondekinders in haar arms deur die water van Esplanade-straat geploeter nadat sy haar huis moes ontruim. Sy vertel dit was in ʼn kwessie van minute dat die water tot by haar voordeur gestyg het.

Die water het nie in Van Niekerk se huis ingekom nie, maar staan vensterbankhoogte in die woonstel op die erf.

“Die meubels in die woonstel dryf bo-op die water.”

Van Niekerk bly tans by haar kinders in die dorp totdat die water gesak het.

Die water het wel in Van Niekerk se buurvrou, Bev Saunders, se huis ingestroom. Sy het aanvanklik teen ontruiming vasgeskop omdat sy eers wou seker maak haar twee honde en drie katte is veilig. Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het die diere kom oplaai en na veiligheid geneem.

Volgens Saunders was sy nie voorbereid vir die watermassas nie en het sy en haar kleindogter met net die klere aan hul lywe en ʼn paar kosbare items in die hand uit die huis gevlug. Hulle kon ook die kleindogter se viool, banjo en skoolboeke betyds red.

“Die water het binne 30 minute van niks tot kniediep gestyg,” vertel Saunders.

Berdine Putter se ma (70) en ouma (89) was Dinsdag steeds in hul huis vasgekeer. Putter se ma het Saterdag omstreeks 23:00 gebel en paniekbevange vertel dat die water al hoe nader aan die huis kom, maar dit was toe reeds te laat om te ontruim.

“My ma-hul wou nie aanvanklik ontruim nie omdat hulle gedink het ‘dit is net nog een van Parys se vloede’ en nie verwag het dit sou só ernstig wees nie,” vertel Putter.

Foto’s van Putter se ma se huis:

Putter se man klim nou oor die bure se muur om vir hulle kos en ander benodighede te vat.

Tussendeur die paniek, het Putter se ma se houtbeeld Sondag vir groot vermaak gesorg toe dit deur die rivierstrome meegesleur en vir ʼn liggaam aangesien is.

Nooddienste en die polisie is ontbied, net om later te hoor dit is die “tannie se 2,5 meter hoë Zoeloe-beeld”.

“Die beeld kan nou weer sy plek langs sy ‘vrou’ inneem, wat nog heupdiepte in die water staan, maar nie toegelaat het dat die rivierstrome haar ook meesleur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koen ·

Dis erg. Maar daar is vloedlyne wat gerespekteer moet word. Die tipe van vloede is ‘n gegewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.