Video: Pasop vir nuwe hoofwegpatrollie in Kaapstad

(Foto: Stad Kaapstad)

ʼn Nuwe hoofwegpatrollie-eenheid, toegerus met outomatiese nommerplaatherkenning-kameras, sal al Kaapstad se hoofweë 24 uur lank monitor. Dié nuwe tegnologie is vandeesweek van stapel gestuur en sal wetstoepassing verseker en beamptes sal motoriste kan bystaan wat in die noodlaan beland.

Die hoofwegpatrollie-eenheid sal sigbare patrollies uitvoer, verkeerswette toepas en reageer op voorvalle wat deur die hoofwegbestuurstelsel se kameras opgemerk word. Beamptes sal motoriste ook kan bystaan wie se voertuie onklaar geraak het en verkeer kan beheer waar nodig.

Die eenheid sal ook spesialis-eenhede soos die Ghost Squad bystaan waar nodig.

Voertuie in die eenheid word toegerus met paneelbordkameras en outomatiese nommerplaatherkenning (ANPR)-tegnologie. Personeellede sal ook lyfkameras dra.

Die ANPR-stelsel is tegnologie wat beamptes kan bystaan met wetstoepassing deur onder andere motoriste op te spoor teen wie lasbriewe vir inhegtenisneming uitgereik is; duplikaat of gekloonde nommerplate op te spoor; en beamptes in kennis te stel van voertuie wat as gesteel aangemeld is of wat in misdade gebruik is.

(Foto: Stad Kaapstad)

Beamptes sal tydens spitstyd ook stilstaan op die N2 by Hospital Bend en Mewweg om te reageer op enige voorvalle wat verkeersvloei of openbare veiligheid raak.

“Hierdie hoofwegpatrollie-eenheid is ons jongste belegging in openbare veiligheid,” sê Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad. “Ons hoop dit help padgebruikers om veilig te voel op ons hoofweë. Ons sal voortgaan met soortgelyke beleggings en die jongste misdaadbekampingstegnologie totdat elke inwoner veiliger voel in Kaapstad.”

Hy sê die eenheid is ook die eerste skuif na ʼn 24-uur-verkeersdiens in misdaadbekamping en om beamptes meer doeltreffend te maak.

“Die tydsberekening van die bekendstelling van hierdie eenheid is baie goed, te midde van voorbereidings vir die feesseisoen. Ons wil ʼn veilige en gelukkige tyd vir al ons inwoners en besoekers verseker.”

Die eenheid bestaan tans uit 25 nuwe verkeersbeamptes, vier nuwe senior inspekteurs, een hoofinspekteur en twee administratiewe personeellede. Die stad beplan om dié kapasiteit binne die volgende finansiële jaar te verdubbel.

“Ons het al ʼn paar jaar gelede dié eenheid in gedagte gehad, maar die bekendstelling is weens die pandemie vertraag,” sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit. “Ek is baie bly om te sien die idee het uiteindelik tot stand gekom tot voordeel van padgebruikers en pendelaars. Ons verwelkom ook die hupstoot tot ons bestaande pogings om die risiko van misdadigers op ons hoofweë te verlig. ʼn Toegewyde hoofwegpatrollie-eenheid is ʼn praktyk wat deur leidende polisiëringsagentskappe wêreldwyd gebruik word. Kaapstad baseer sy toekomstige polisiëringsfunksie op internasionale standaarde. Ons metropolisie is al ʼn paar jaar lank besig met sporadiese patrollies op die N2 en R300 te midde van ʼn toename in aanvalle en hierdie eenheid sal die voetspoor kan uitbrei na roetes soos die N7 wat ook intussen ʼn reputasie opgebou het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.