Video: Rob vaar Kaapse strate in

Die rob het probeer die pad oorsteek. (Foto: Verskaf)

Kaapse motoriste is Woensdagoggend deur ʼn buitengewone verkeersreguleerder begroet – ʼn rob.

Motoriste op Jakes Gerwel-rylaan oorkant die Vangate-winkelsentrum moes koes toe ʼn Kaapse pelsrob die besige pad wou oorsteek. Dié winkelsentrum is sowat 15 km van die naaste strand en kry nie gereeld seelewe op sy voorstoep nie.

Jaco Pieterse, hoofinspekteur van die Kaap van Goeie Hoop-dierebeskermingsvereniging (DBV), is saam met inspekteur Lwazi Ntungele na die toneel ontbied waar hulle die rob en ʼn groep verwarde omstanders aangetref het.

Wayne Dyason, woordvoerder van die Stad Kaapstad se metropolisie, het bevestig dat beamptes op die toneel was en die verkeer gereguleer het in ʼn poging om die rob veilig te hou.

Die inspekteurs, wat ʼn uitgebreide kennis oor pelsrobbe het, het vinnig werk daarvan gemaak om die rob in ʼn krat te lok en na veiligheid te kry. Nadat sy aan ʼn vinnige gesondheidsondersoek onderwerp is, het die inspekteurs haar na ʼn nabygeleë strand geneem en haar in die see vrygelaat.

“Hoe die rob in die eerste plek so ver van die see tot daar kon kom, sal ʼn raaisel bly,” sê Pieterse.

“Een teorie is dat dit in ʼn kanaal ingeswem het en verder weggespoel is deur sterk strome.”

Omstanders het reeds die rob “Santa the Seal” gedoop teen die tyd wat die inspekteurs op die toneel aangekom het. Video’s wat van naby af geneem is, wys ook hoe die rob oor die pad loop, terwyl die polisie motoriste probeer waarsku.

Pieterse het egter lede van die publiek daaraan herinner om nooit ʼn wilde dier te nader nie, veral nie ʼn Kaapse pelsrob nie.

“Dié soort robbe is taamlik aggressief en sal nie huiwer om te byt wanneer dit in ʼn hoek gedruk word of bedreig voel nie,” sê hy.

“Dit is veiliger om die DBV by 021 700 4158/9 of 083 326 1604 te kontak en ons opgeleide spanlede sal die wilde dier bystaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.