Video: So lyk die loopbane van die toekoms

pieter-geldenhuys

Pieter Geldenhuys, ʼn internasionaal bekende toekomskundige en die direkteur van die Instituut vir Tegnologie, Strategie en Innovasie. (‘n Skermskoot uit die video.)

Kenners meen bykans 50% van die beroepe wat tans bestaan en waarmee ons vertroud is, sal teen 2025 heeltemal oorbodig wees namate kunsmatige intelligensie voortgaan om die struktuur van die werksplek te verander.

Hoe berei ʼn mens jouself en jou kinders voor op hierdie snelveranderende wêreld? Mia Slabbert, ʼn joernalis van Solidariteit, het met Pieter Geldenhuys, ʼn internasionaal bekende toekomskundige en die direkteur van die Instituut vir Tegnologie, Strategie en Innovasie, hieroor gesels.

“Daar is geweldig baie beroepe wat gaan verander, maar ons moet besef dat as jy op die voorpunt van die tegnologiese veranderinge bly, sal jy ook in staat wees om te sien wat verander. So kan jy jou eie vaardighede ook aanpas om by te bly,” sê Geldenhuys.

Hy glo die internet van dinge waar alle toestelle met die internet verbind is en data met mekaar deel, sal op kort termyn ʼn groot invloed op mense se leefwêreld hê.

“Mense wat die internet van dinge kan bou, ondersteun en gebruik, is reeds ʼn stappie voor die res.”

Watter raad het Geldenhuys vir ouers en kinders wat dalk binnekort keuses moet maak oor vakke of ʼn loopbaanrigting?

“My raad aan jongmense is om ʼn goeie grondslag in fisika en wiskunde te kry. Dit is ook baie belangrik om ʼn grondslag in komplekse aanpasbare stelsels te kry. Dit is die een vakgebied waaroor niemand nog praat nie. Ek dink as jy daardie kundigheid het, kan jy ver vorder.”

Hy voorspel ook dat mense meer aandag aan tale sal moet gee om in die toekoms ʼn voorsprong te kry.

“Maak seker dat jy op ʼn jong ouderdom kundig is in verskeie tale. Ons moet besef dat ons nie meer net burgers van ʼn land is nie, maar ook nou van die wêreld en daarom is jou vaardigheid in verskeie tale, veral die tale van die Ooste, baie belangrik.”

Geldenhuys is bekend vir sy gewaagde maar akkurate voorspellings van die toekoms van tegnologie. Hy glo die enigste manier om werklik die toekoms met sekerheid te voorspel, is om dit self te skep.

“Watter lesse sal ek vir my eie kinders gee? Ek sal vir hulle sê om nie so bekommerd te wees oor wat ander van jou dink of hoe ryk jy op ʼn jong ouderdom is nie. Ek sal hulle aanraai om hulle twintigerjare te gebruik om te eksperimenteer, al bly hulle dan nog by hulle ma en pa. Wie gee werklik om?”

Hy wil jongmense juis aanspoor om dié eksperimentele fase te gebruik om te bepaal wie hulle is, wat hulle gawes en belangstellings is, met die vooruitsig om ʼn entrepreneur te word.

Geldenhuys is oortuig die belangrikste aspek van ʼn gelukkige toekoms is om passievol te wees oor dit wat jy doen.

“Wanneer jy daardie passie gevind het, soek ʼn manier om dit te omskep in ʼn behoefte wat die mark wil hê en dan gaan jy nooit weer ʼn dag lank in jou lewe hoef te ‘werk’ nie. Bou ʼn toekoms op so ʼn wyse dat jy onafhanklik is van die struktuur wat die samelewing aan jou bied.”

Wat dink Geldenhuys gaan die beroepe van die toekoms wees?

“Waar begin ons? DNS-ontleding en DNS-adviseur wat met die ontleding van jou DNS en mikrobioom gaan agterkom wat is afwesig in jou eie gesondheid en dan gaan jy jou dieet en lewenstyl só aanpas dat jy minder siek gaan word.

“Die hele fokus in die toekoms gaan wees om langer gesond te bly en nie om noodwendig die simptome te probeer behandel nadat jy siek geword het nie. Dit is een van die groot tendense van die toekoms.

“Nano-tegnologie gaan ’n geweldige invloed hê op ons toekoms en ons gaan mense hê wat anders na die hele logistieke wêreld kyk – alles gaan verander. Van hommeltuie vlieg tot outonome motors gaan ’n werklikheid word en daar gaan geweldige vooruitgang wees in hierdie tegnologie.”

Volgens Geldenhuys baan nuwe tegnologie die weg vir opwindende entrepreneurskappe in die toekoms. Vir individue wat regtig passievol oor tegnologie is, is Afrika dié vasteland waar al die geleenthede sal wees.

“Die res van die wêreld is besig om in tydvakke in te gaan waar hulle samelewings al hoe kleiner word. Afrika ondervind egter eksponensiële groei in mense en die grootste behoefte aan tegnologie gaan in Afrika wees om dié groter bevolking te ondersteun. Ek dink deur die tegnologie en die vermoë om tegnologie te gebruik om waarde te skep, nie net vir jouself nie maar ook vir die samelewing rondom jou, bied Afrika ongelooflike geleenthede,” sê hy opgewonde.

“Dit gaan egter afhang van die soort tegnologie waarvan jy praat en waarin jy wil spesialiseer. Ek wil mense aanmoedig om die veranderinge in tegnologie te omarm en ten beste te benut, en daarom is opleiding en ontwikkeling kardinaal vir die sukses van jou as individu om jouself bemarkbaar te hou in die toekoms.”

Kyk hier na Mia se volledige onderhoud met Geldenhuys:

  • Hierdie artikel is verkort en met die vergunning van Solidariteit geplaas. Lees die volledige artikel hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Vlakvak ·

Met alle respek: Caveat:

Hoog tegnologie is die speelveld van GROOT SPELERS met GROOT GELDBRONNE tot hul beskikking. Hulle kontrakteer die beste breinkrag wêreldwyd. Die groot spelers het ‘n menigde hoogs opgeleide, hoogs ervare en hoogs kreatiewe mense in hul diens. En tegnologie verander teen ‘n skrikwekkende pas.

Wees realisties: Besluit eers waar in hierdie magstryd gaan jy kan inpas en besluit of jy vir baie jare sal kan meeding met die top breinkrag in die wêreld.

En weet: Ons liewe Suid-Afrika is ‘n tiniwienie landjie in hierdie Groot Olifante stryd. As jy tegnologies uitblink, gaan na die VSA.

En vergeet om jou tyd te mors om byvoorbeeld Sjinees te bemeester. Vermorsing van kosbare lewenstyd. Die Sjinese leer toenemend Engels. So, fokus eerder op Engels.

Sterkte en moet nie u ore aan elkeen uitleen nie.

Fisikus Vlakvark.

Kolle ·

Stem met alles saam behalwe die eksperimenteer in jou twintigerjare al bly jy by jou ma en pa. Soveel jongmense sukkel deesdae om die nes te groet en dit het niks te doen met spaar of eksperimenteer nie. Verder insiggewende artikel.

John ·

?… en nèrens op aarde gaan daar meer enige misdaad wees of die misbruik van kennis en die wetenskap nie. Alles gaan mooi werk en ons gaan net liefde en liefde beleef en in ruimtetuie rondkuier en langs blou mere uithang alles lekkerder as in die paradys… in weelde met baaaaiiieeee kos vir die triljoene leegleèrs wat deur biljoene robotte bedien gaan word. ‘Yes master, what can I do for you.’

Anna ·

Maak nie saak wat jou kind (blank) gaan studeer nie. BEE, weerhou jou van net mooi ALLES!!!

sweis ·

Baie insiggewend, bygesê natuurlik dat ons kinders en kleinkinders se standaard van onderwys verhoog word en dat die huidige piesang kurrikulum geskrap word en n nuwe een geskep word wat voldoen aan eerste wêreld standaarde.

Sarie ·

En Afrika is nou glo die veld wat betree moet word? En net soos in die verlede, as alles opgebou is word die appelkar weer deur Afrika omgekeer!

Kobus ·

Ja, baie mense in Afrika, maar hulle is arm, sonder enige kans om uit armoede en korrupsie te ontsnap. Die ontwikkelde wêreld sal vir die volgende 200 jaar steeds die plek wees waar jou nasate hulself moet bevind.

Hanna Hoekom ·

Ek dink nie dis baie goeie nuus vir die 30% gemiddelde studente wat net sekere politiese rigting of menslike hulpbronne wil studeer nie… Wenk: daardie lui lummels wat alewig die kampusse wil afbrand (en verder op die belastingbetaler se rug ry). Hulle mors dus almal se tyd en geld.

En nou? ·

Die beste raad – As jy wit is, waai! Jy gaan nie ‘n kans hier kry nie, al het jy ‘n 100 kwalifikasies!

Elna ·

Ons almal weet dit maar waarheen moet ons waai is die vraag. Watter land gaan ons red uit Suid Afrika? Waar in die wereld is ons blanke Suid Afrikaners welkom?

wielie ·

Ag asseblief ….ons leef NOU en daar is nie werk nie. Hou op yep yep oor die toekoms. Eskom moet betaal word en die kar moet petrol kry ………… so konsentreer op NOU EN NIE OOR 20 JAAR NIE.

Vlakvark ·

Geagte Jongmense,

Hoogtegnologie is die speelveld van GROOT WÊRELDKLAS spelers met GROOT BRONNE en kreatiewe innoveremde werknemers uit die mensdom se boonste intellektuele rakke. Jongmens, besluit oordeelkundig waar gaan en KAN jy in hierdie wedloop volhoubaar suksesvol figureer. In Suid-Afrika is haas geen geleenthede nie.

Fokus op Engels en vergeet Sjinees. Die Sjinese fokus ook op Engels.

Raadpleeg vele bronne en ervare wetenskaplikes en ingenieurs en moet nie emosionele impulsiewe besluite neem gebaseer op 4de Industriële Revolusie bangmaak stories en opgesweepte gemoedere (“hype”) nie.

Dirk van der Merwe ·

Nou ja……die sg. ekspert op die toekoms het klaarblyklik vergeet wat Afrika se geskiedenis is…..dit wat gebou word, word afgebreek en daarna word daar gebedel. Bogenoemde geplaasde kommentaar is kentekend van die deursnee Suid-Afrikaner se gevoel en beaam wat almal maar WEET. Nee wat, feetjie-land gedagtes om ander te probeer oortuig dat daar hoop is, beindruk my lankal nie meer nie–ek is ‘n realis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.