Video: Stormweer woed voort in die Kaap

‘n Boom wat ontwortel is lê in die pad in Bellville (Foto: Ian Landsberg, ANA)

’n Tweede storm wat gepaard gaan met stormsterk winde en swaar reën het die Kaap Sondag getref en verwoesting reg oor die Kaapse metropool veroorsaak. Strate lê kniediep onder water, terwyl sommige paaie steeds gesluit is weens bome wat ontwortel is. In die Kaapse Vlakte is huise se dakke afgewaai.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW) het Sondag gewaarsku Kapenaars kan van Maandag af hulself staal vir snerpend koue, winderige en nat toestande wanneer nog ʼn kouefront na verwagting sal tref. Die eerste kouefront het die provinsie Donderdagmiddag getref.

Stormsterk winde het skade aan die tydelike klaskamers wat by die Nomzamo-hoërskool in die Strand opgerig is, beskadig (Foto: South African Weather Service via Twitter)

Die dakke van huise in Manenberg, Heideveld en Lavender Hill in die Kaapse Vlakte is afgewaai. Bome is in gebiede soos Tokai en Waterloo Village in Tuine ontwortel. ’n Huis en talle voertuie is in die proses beskadig.

Richard Coleman, woordvoerder van die Stad Kaapstad se verkeersdienste, het gesê 19 gebiede reg oor die stad het ontwortelde bome aangemeld, onder meer in Somerset-Wes, Nuweland, Tokai, Kraaifontein, Blackheath, Bellville, Rondebosch en Parow.

Die stormsterk winde het ook skade aan vyf tydelike klaskamers wat by die Nomzamo-hoërskool in die Strand opgerig is, beskadig.

Drie Ankerbaai onder skuim van die see (Foto: Ros Silke via ReënvalSA Twitter)

Seepunt en Drie Ankerbaai het Maandagoggend toe onder wit skuim gelê van die rowwe branders wat gebreek het. Die SAW het ’n gewaarsku teen rowwe seetoestande met golwe van tot sewe meter hoog.

Charlotte Powell, ʼn woordvoerder van Stad Kaapstad se rampbestuursentrum, het Vrydag gesê swaar reën Donderdagaand het oorstromings in informele nedersettings by Khayelitsha, Philippi, Wallacedene, Mfuleni en Delft veroorsaak. Sy sê ten spyte van die swaar reën en oorstromings was dit nog nie nodig om inwoners van dié nedersettings na noodskuilings vir veiligheid te neem nie.

“Die departement van informele nedersettings sal inwoners van die nodige toerusting voorsien en die departement van vervoer sal help met die aanry van sand. Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) is versoek om humanitêre verligting te verleen aan die inwoners wat erg deur die oorstromings geraak is ,” sê Powell.

Powell sê amptenare van die rampbestuursentrum is saam met ander betrokke departemente van die stadsraad reeds besig met opruimingswerk reg oor die stad.

Die ysige weerstoestande sal teen Dinsdag en Woensdag oor die res van die land beweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harold ·

Lekker Kaap van Storms al eeue lank!My houthuisie was oorstroom ,ek sny gras vir lewe,maar ek geniet dit!Onthou net dit sal die Kaap van goeie Hoop bly,hoop dat die storm die of dit wat nie hier hoort sal verdryf!

Johan D ·

Ek wonder of die perde wat so dapper deur daai skuim ry besef dat die voertuie binnekort net ʼn bondel roes gaan wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.