Video van mans wat kameelperd laat neerval, veroordeel

Die kameelperd nadat hy neergeval het. (Skermgreep uit video op Facebook)

’n Video wat wys hoe ’n groep jong mans ’n kameelperd met ’n voertuig jaag voordat die dier eindelik verbouereerd oor ’n heining spring en op die grondpad neerval, het hewige kritiek op sosiale media ontlok.

Die video is aanvanklik op TikTok gedeel, maar sedertdien ook wyd op ander platforms versprei.

Daar kan in die betrokke video gesien word hoe die kameelperd tot die insittendes van die voertuig se vermaak in die pad af gejaag word. Die verbouereerde dier spring dan verward teen die draadheining wat langs die grondpad loop, in ʼn poging om van sy agtervolgers te ontsnap. Sy lang lyf tuimel oor die heining en hy val kop eerste op die grondpad aan die ander kant van die draad. Die kameelperd probeer een laaste keer halfhartig opstaan, voor hy lank roerloos bly lê. Die insittendes van die voertuig, wat klink soos ’n groep jong mans, lag en gil deurentyd opmerkings.

Die kameelperd word pad af gejaag. (Skermgreep uit video op Facebook)

“Nou’s hy f*****p,” sê een, terwyl ’n ander insittende snedig sê: “Ag, ’skies.”

Die persoon agter die kamera word gevra of hy dit op video vasgevang het. Sommige insittendes, onder wie die bestuurder van die bakkie, klim dan uit en stap nader. Daar word gefluit en die kameelperd word aangemoedig om op te staan. “Kom, seun, kom,” sê die een.

Een van die ander vergelyk die dier se val met ’n harde “tackle”.

“Hy moet nou maar vrek” en “skiet hom” is van die ander opmerkings voordat die kameelperd eindelik weer op sy voete kom en die veld in hardloop.

Die video is onlangs deur ene @benniebeatbox op TikTok geplaas, maar dit blyk die rekening is intussen verwyder.

Die kameelperd spring op teen die draadheining. (Skermgreep uit video op Facebook)

“Mense soos dié hoort nie naby wild nie,” lui ’n inskrywing deur ’n sosialemediagebruiker op Facebook. Die video op Facebook is meer as 87 000 keer gekyk.

Die groep mans word deur verskeie sosialemediagebruikers van wreedheid teenoor diere beskuldig terwyl sommige na die mans kap wat deurgaans in die video uitbundig lag.

Dit is nie in dié stadium duidelik waar of wanneer die voorval plaasgevind het of wie daarby betrokke was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Hester Wilhelmina ·

Julle sal vir my moet trrughou as ek naby hulle kom….

Pieter ·

Ek sal skaam kry as ek hulle is nie lag nie. Dit is omdat kinders van vandag nie meer pak slae kry nie. As jy dit op my plaas doen dan jaag ek jou weg.

Lourens CFG ·

Jaag weg, maar nie sonder ‘n helse loesing dat hul ook eers ‘n ruk moet lê voor kan opstaan en gaan nie.
Hulle almal moet ook permanent verbied word om naby enige dier (wild óf mak) te kom.

Ovelia ·

Ek hoop jul word ook eendag so gejag. Wat se maniere ht julle. Julle is so wreed

Retha ·

Sien hier is iemand wat nie saamstem dat dit wreed is nie. Seker ook van die wat dit sal doen.

Genis ·

Verstommende, on opgevoede gedrag! Kan bly wees ek was nie daar nie… Wat jy uitdeel sal jy ontvang ne…

Tipper ·

ja baie gevaarlik om een van die mannetjies vir n skoonseun te kry, huwelik sal nie lank hou nie.

Misky ·

Hoop hulle ouers het die video ook gesien en hul seuns herken of stemme en reken oorkomstig met hulle af. Dis ongenadiglik en karma is ‘n snaakse ding

Dirk ·

Hierdie jong mans is deel van ons samelewing. Hulle is die produk van een van ons wie nie genoeg omgegee het nie, wie nie daar was toe ons moes nie, wie ander pad gekyk het toe ons moes intree- die produk van ons nalatigheid. Dit is my en jou skuld.. hulle is ons smaad. Ons naaktheid. Ons verleentheid.

Reynier ·

Dieselfde mense wat hulself wil boere noem, wat rugby liefhebbers (praat van tackle). Hulle laat val ook 10-1 die p woordjie so drie keer in ‘n sin. Ek skaam my vir my mense.

JohanR ·

Ek dink diere het nou beter maniere as sommige wat op twee pote rondloop! Verbaas daai vrou was nie daar om die hart uit te ruk en met hom te spog!

Marthsu ·

Dit is so hartseer. Ek word so onsteld dat mense so min voel vir diere!

Toktokkie ·

Ek is jammer om dit hier te noem maar ek het al lankal gesien hoe die jonger geslagte wat op plase groot word absoluut geen gesag het vir diere nie. Miskien moet mense wat op plase bly hul kinders en hul kinders opvoed hoe mens na die natuur en dierelewe moet omsien. Dis asof hulle alles van vanselfprekend aanvaar en net geen ontsag het vir ‘n diere lewe nie. Dis regtig baie sleg en sou my dood skaam!!

sopbeen ·

Jy is reg. Hier by ons is juis so ‘n jongman wat loop en “brag” dat hy 2 blesbokke gejaar het met sy bakkie tot hy hul kon doodry omdat hul uit gekom het en hy nie sy geweer by hom gehad het nie. Ekt alle respek vir hom verloor.

Retha ·

Ek hoop die mans word sommer in die tronk gestop, want dit is onmenslik om dit aan weerlose dier te doen en dan nog daaroor te lag ook.

Ansie ·

Ek hoop hulle word gevang en op die harde manier op hulle plek gesit – in die tronk! Sies!! Morele verval vier hoogty in SA.

Pietertjie ·

Hulle is nie die woord “mans” werd nie. Ek hoop hulle word gevang en in die tronk gegooi oor daai dieremishandeling.

Maggies ·

Wat het gebeur met die gans slagters? Dit weeg nie eens op teen hierdie jong mans se gedrag nie. Hoop hulle word uitgeken en kry groot straf.

Lynette ·

Julle is seker baie trots op julself nê. Hoe gaan jul julle kinders leer om hul troeteldiere te versorg? Of gaan jul hul leer dis ok om ‘n weerlose dier wat homself nie kan verdedig te verniel? Is jul ouers trots op julle? Ek hoop jul word gevang elkeen van julle. Julle is lafaards.

DIABLO ·

Ek sal bitter graag n vlieg teen die muur wil wees wanneer die wiel draai. Ek hoop julle foeter ook so hard neer. Ek hoop julle is ook so verneder dan. Ek hoop julle vergeet nooit wat julle gedoen het nie en dat daardie skuld gevoel julle sal ry al die dae van julle siele se lewens. Julle is nie die naam mens werd nie. Julle is n klomp papbroeke, sleg grootgemaakte sissies. SIES!

Anoniem ·

Mag jul nooit in jul lewens weer toegelaat word op ‘n wildsplaas of Wildtuin nie.

Boerinmurgenbeen ·

Ek het nie die video gesien nie, maar van wat ek hier lees, reken ek dit is skandalige optrede.
Ek lees al die kommentare en ek stem nie saam dat die jongmense wat vandag op plase groot word geen gevoel vir diere het nie.
Op die end hang dit van die ouers af wat daardie jongens groot gemaak het.
Watse waardes het jy jou kinders geleer?
Ons moet ophou om te sê die jongens van vandag het geen maniere nie, eerder die ouers van vandag was te slap in die rug om hulle kinders ‘n behoorlike opvoeding te gee.
Niemand weet wie die jong klomp is en waarvandaan hulle kom nie. Ek glo nie hulle kom van ‘n plaas af nie. Gewoonlik is plaas kinders sensitief oor hulle diere se welsyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.