Video’s: Nat oë én lande toe reën in NK val

Die veld op ‘n plaas tussen Van Wyksvlei en Carnarvon onder water (Foto: Carel van der Merwe, SA Reënvalverslae, Facebook)

Dele van die Noord-Kaap het die afgelope naweek goeie reën ontvang en boere is opgewonde oor wat die res van die reënseisoen vir hulle inhou.

Hoewel dit op plekke meer as 82 mm gereën het, benadruk boere dat die droogte nog lank nie verby is nie.

Volgens statistieke wat sommige landbouers van die Noord-Kaap ingesamel het, het reën die naweek wydverspreid in die provinsie voorgekom, maar nie oral ewe veel geval nie. Dit het wel op plekke in die Kalahari, Namakwa- en Boesmanland gesous.

Reën op Pedroskloof Gasteplaas in Namakwaland – (Foto: Namakwa Voetslaan Hannetjie O’Connell, Facebook)

Boere in die droë Carnarvon-gebied het op plekke tot 96 mm gekry. In die Sutherland-gebied is 60 mm reën aangeteken, gevolg deur die Fraserburg- en Williston-gebied met 50 mm. Volgens Wilhelm Steenkamp van Williston se boerevereniging is dit die eerste ordentlike reën in nege jaar wat in die Williston-gebied aangemeld is.

Brandvlei en Loeriesfontein het op plekke onderskeidelik 50 mm en 77 mm reën gehad. In die dorp in Loeriesfontein het meer as 50 mm reën in sowat 15 minute geval. In Calvinia is tot 60 mm reën aangemeld.

Boere in Upington het gister tot sowat 32 mm reën aangeteken. In die Kenhardt- en Pofadder-omgewing het sekere gedeeltes tot 40 mm reën ontvang.

In die Richmond-gebied het dit tot 82 mm gereën. In Britstown en Victoria-Wes is tussen 50 mm en 60 mm reën aangemeld.

Volgens Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, is daar wel plase in die Griekwastad-gebied wat nie ʼn enkele druppel reën ontvang het nie. Daar is ook plase in die omgewing van Prieska en Vanwyksvlei wat slegs tussen 2 mm en 4 mm reën ontvang het.

“Die reën is wonderlik, maar op van die plase is die droogte geensins gebreek nie. Hulle het steeds droogtehulp broodnodig. Op plase waar opvolgreën geval het, gaan die reën wel ʼn groot verskil maak, maar die droogte is nog lank nie verby nie,” het Jansen gesê.

Die provinsie gaan al vir die afgelope agt jaar onder erge droogte gebuk en dié droogte is in Julie tot nasionale ramp verklaar.

Johan Spamer, ʼn boer van Boesmanskolk naby Williston, sê daar het saam met die reën ook trane van blydskap oor sy wange gerol.

Reën tussen Van Wyksvlei en Carnarvon (Foto: Carel van der Merwe, SA Reënvalverslae, Facebook)

“Boere en gemeenskappe juig oor die reën. Hulle besef egter om weer veegetalle op te bou en voerrekeninge te betaal, sal nog baie lank duur, maar daar is hoop en vooruitsigte. Die reën as ʼn geskenk kan nie in geldwaarde bereken word nie,” vertel Spamer.

Volgens Janine Byleveld, bedryfsbeampte van Agri Noord-Kaap, is dit goed om weer positiwiteit in die boere se stemme te hoor.

“Die boere ruik sommer die nuwe lewe in die veld.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Daleen1 ·

Dis sulke goeie nuus, so dankbaar vir die boere. Vertrou daar sal nog wees

Willem ·

Dankie Here. Dankie vir U mildelike seen op die droogte geteisterde boere. Dit is net genade uit U hand uit en hul het dit so nodig.

Frank John ·

Daai mense ini NK moet “tjoopies” aan die kinders se arms sit voor hulle ini straat gaan speel ini water, dis daar waar kinders verdrink want hulle ken nie sulke water nie.

Di ·

Alle loof en eer kom ons Hemelse Vader toe! Hoop dat daar nog baie reen sal neerstort op die gebiede wat nog droog is. Ons moet net aanhoud bid en vasklou aan ons geloof

Faraway ·

Eerstens alle eer aan n GOD wat LEEF!
Matt 5 : 45
. . . sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.