Moeder Natuur het Donderdag vir ʼn skouspel gesorg toe ʼn sand- en stofsstorms groot dele van die sentrale binneland in rooi gehul het.
Die verskynsel is deur ʼn frontale stelsel veroorsaak wat verskeie dorpe en stede in die Noord-Kaap, Noordwes, Vrystaat en Gauteng geraak het. Dieselfde stelsel het ook vinnige donder- en haelstorms in KwaZulu-Natal en Mpumalanga veroorsaak. In sommige gebiede is haelkorrels so groot soos gholfballe gevorm.
Sihle Kunene, ʼn weervoorspeller van die Bloemfonteinse weerdiens, het Vrydag aan Maroela Media gesê Donderdag se sandstorm is nie ʼn algemene verskynsel nie.
“Die sandstorm het plaasgevind weens ʼn kombinasie van donderstorms en intense hoëdrukstelsels,” het Kunene gesê. “Sterk winde het omgeploegde grond van plase in die Vrystaat opgeraap en rondgewaai.”
Hy het gesê sandstorms is minder algemeen as stofstorms en dat die storm oor Bloemfontein beslis ʼn sandstorm was. “Sandstorms word geklassifiseer sodra sigbaarheid minder as 1 000 meter is. In Bloemfontein was die sigbaarheid 300 meter. Die storm wat Gautengers ervaar het was heelwaarskynlik ʼn stofstorm, want sigbaarheid was meer as 1 000 meter,” het hy verduidelik.
Hy het gesê sand- en stofstorms kom hoofsaaklik hierdie tyd van die jaar voor.
Hier volg drie video’s wat mense op YouTube gedeel het.