Vier keer lewenslank vir kinderverkragting

Des Erasmus (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel.

Des Erasmus (66) is Dinsdag in die streekhof in Pretoria-Noord tot vier keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir die verkragting van sy voormalige minnares se vyfjarige dogter.

Hy is ook 30 jaar tronkstraf opgelê vir twee aanklagte van seksuele aanranding en vyf jaar vir een aanklag van die vervaardiging van kinderpornografie.

Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Erasmus is ook ongeskik verklaar om ’n vuurwapen te besit en gaan op die lys van seksuele oortreders gevoeg word. Hy is ook ongeskik verklaar om met kinders te werk.

Erasmus het vandag emosieloos in die beskuldigdebank gestaan terwyl landdros Pierre Wessels hom gevonnis het.

Erasmus het die dade teenoor die kind – wat van Desember 2021 tot Maart verlede jaar by die ma se huis in Pretoria-Noord gepleeg is – beken. Die slagoffer was ten tyde van die verkragtings vyf jaar oud.

‘Narsis met geen berou’

Des Erasmus (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Wessels het tydens vonnisoplegging gesê ’n “narsistiese persoonlikheidsversteuring” is by Erasmus gediagnoseer. Die landdros het in dieselfde asem gesê dat Erasmus ontken het dat hy homself as ’n misdadiger of pedofiel sien en eintlik “bang is vir kinders”.

“Die feit dat hy skuldig op alle aanklagte teen hom gepleit het, is veronderstel om ’n teken van berou te wees. Die feit dat hy ook ontken dat hy ’n pedofiel is, beteken dat hy eintlik geen berou het nie. Daarom glo die hof die beskuldigde kan ook nie gerehabiliteer word nie,” het Wessels aangevoer.

Volgens Wessels is daar nie enige wesenlike of dwingende omstandighede in die hof bewys om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie.

Inteendeel, volgens die hof het Erasmus ’n normale kinderlewe en verhoudings met vroue gehad. Wessels het ook Erasmus se kwalifikasies benadruk en gesê “dit is nie sommer enigiemand wat oor sulke hoë kwalifikasies beskik nie”.

Erasmus is gekwalifiseer as meganiese ingenieur en geoktrooieerde rekenmeester en is ʼn vlieënier.

Volgens Wessels weeg die erns van die misdrywe en die uitwerking wat dit op die slagoffer (wat nou sewe jaar oud is) veel swaarder as die versagtende omstandighede.

“Tronkstraf is die enigste opsie in hierdie saak – waar die feite vanself spreek. Die aanklagte is ernstig en skokkend.”

Volgens Wessels is geweld teen vroue en kinders ’n groot probleem in die land en Suid-Afrikaners is moeg daarvoor.

“Pres. Cyril Ramaphosa beskryf dit as ’n globale pandemie. En dit is die hof se verantwoordelikheid om sulke misdrywe te bekamp. Die gemeenskap maak staat daarop.”

Getraumatiseerd

Volgens Wessels kan hy nie indink hoe “getraumatiseerd en bang” die slagoffer ten tyde van die misdrywe moes voel nie.

“En dit deur ’n volwassene wat veronderstel was om haar te beskerm en by wie sy veilig moes voel. Kinders is veronderstel om vry en sonder vrees buite te speel.”

Luidens die slagofferimpakverslag kan die slagoffer in die fynste besonderhede die seksuele dade wat teen haar gepleeg is, beskryf. “Sy gebruik kinderlike bewoording om dit te beskryf,” het Wessels tydens vonnisoplegging gesê.

“Die slagoffer kan ook die pyn verduidelik wat sy moes verduur en sukkel met nagmerries. Sy vra haar biologiese pa, by wie sy tans woon, om te bid dat die pyn en nagmerries weggaan. Sy het ook gesê sy hoop die beskuldigde sterf in die tronk.

“Sy ervaar al hierdie emosies weens die beskuldigde se toedoen.”

Maroela Media het vroeër berig Erasmus en die 40-jarige ma, wie se naam weerhou word om die identiteit van die slagoffer te beskerm, is op 18 Maart verlede jaar saam in hegtenis geneem. Albei is destyds borgtog geweier en Erasmus is sedertdien in aanhouding.

Die ma het in Desember verlede jaar in ʼn pleitverklaring erken dat sy teenwoordig was terwyl Erasmus, toe haar minnaar, die dade met haar dogter gepleeg het. Sy het self ook seksuele dade op haar dogter uitgevoer.

Die ma het die seksuele dade tussen haar minnaar en haar dogter afgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

JohanR ·

Wonder in hoeveel huise in SA die gebeur dat Pappa stil in die nag dogter se kamer inkom en se stil meisie? Agt uit tien is dit ook altyd ‘n stiefpa.

Karoo ·

Laat dan ook na dat Ma’s…. soos hier, ook deel neem of selfs die misdrywe uitvoer teenoor kinders.

Elize ·

Stem JohanR. My ma het presies geweet wat gedoen word en net stil gebly en weggekyk. Albei nou onder die kluite en spook dit soms nog by my

Bolandse Nooi ·

Of dalk ‘n eie bloed broer. En “Mamma” sê ‘boetie sal nie sulke goed doen nie’ as sussie by “Mamma” kla.

Pieter J ·

Die ma moet ook lewenslange tronkstraf sonder die opsie van parool kry.

Oros Soros ·

Lewenslank kan opgelê word. Ons wetgewing laat nie toe om iemand te vonnis “sonder enige parool” soos wat in die VSA geld nie.

Corne ·

Sy dien reeds tronkstraf uit. Sy is in Desember reeds gevonnis. Haar vonnis baie dieselfde soos syne.

Sê maar net ·

Siek, siek mense!! Asseblief, geen parool. Absoluut walglik….

Mag daai arme dogtertjie met tyd, fisiese en geestelike genesing ondervind.

Kosie ·

Wat help dit jy se 4 keer lewenslank en nog vyf vir dit en 10 vir dit en alles gaan saamloop, gee dan net 1 lewenslank, die stuk g&m@rs moes vir altyd in die tronk sit, hy het n kind se lewe verwoes, die kind was maar 5.

Bolandse Nooi ·

Wat erger is, is dat die ma dit toegelaat het en self deelgeneem het!!!

Renier ·

Lewenslank in die tronk sou ek hoop hy kry nie die geleentheid om met kinders of vuurwapens te werk.

Karoo ·

Hoe kon iemand wat soveel vir ‘n kind kan bied. ek meen…’ n meganiese ingenieur en geoktrooieerde rekenmeester en ʼn vlieënier!!! En dan doen jy dit, en jy deel dit met die Ma??? Hoe kom jy tot dit?

Dewald ·

Hkm ry hy nie maar eerder na die onderdorp en bevredig sy behoeftes met die dames van die nag nie. Sluit hom toe en gooi die sleutel weg.

Bolandse Nooi ·

Dit gaan nie oor bevrediging nie. Dikwels is verkragting en molestasie ‘n magspel. Dit is die “mag” wat hulle het, oor iemand wat jonger, kleiner, weerloos is, wat die “kick” gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.