Vier mynwerkers sterf ná modderwal ineenstort

myn staking mynhoed

Argieffoto

Vier mynwerkers is die afgelope naweek tydens ʼn mynongeluk by Harmony Gold se Kusasalethu-myn, naby Carletonville in Gauteng, dood.

ʼn Modderwal het volgens inligting ineengestort en op die werkers geval. Die werkers was besig om ʼn ondergrondse modderdam skoon te maak en herstelwerk aan ʼn pyp in die dam te voltooi.

Volgens Abigail Moyo, woordvoerder van die vakbond Uasa, het twee werkers die ongeluk oorleef.

Ná afloop van dié ongeluk het die getal sterftes in die mynbedryf vanjaar tot 19 gestyg. Daar is verlede jaar altesaam 18 sterftes aangemeld.

Sibanye-Stilwater se Driefontein-myn het in Januarie sy eerste sterfgeval vir die jaar aangemeld. Dít nadat daar verlede jaar slegs in dié groep myne 18 sterfgevalle aangemeld is.

Sihle Maake, woordvoerder van Harmony Gold, sê die werkers se families en relevante owerhede is onmiddellik van die ongeluk ingelig en die geraakte gebied is gesluit, hangende ʼn ondersoek ter plaatse.

Volgens Moyo het die inspekteur van mynwese ʼn formele ondersoek begin.

Peter Steenkamp, hoof- uitvoerende beampte van Harmony, het sy medelye aan die werkers se families betuig.

“By Harmony beskou ons al ons werknemers as deel van die groter gesin. Ons prioriteit is nou om die families van die oorledenes en almal wat deur dié tragedie geraak is, te ondersteun,” het Steenkamp gesê.

Uasa moedig alle mynhuise aan om die veiligheids- en gesondheidsmaatreëls te monitor wat werkers se veiligheid verseker.

“Werkers speel ʼn belangrike rol in ons ekonomie en hul veiligheid is van die uiterste belang,” sê Moyo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos ·

So jammer om dit te lees – rus n vrede. Soos met skuba duik, vlieg, en so meer, is mens hier uit jou element. Die mynbedryf is riskante werk, wees veilig en moenie kortpaaie volg nie.

Miena ·

Ek werk self in die mynbedryf, – Steenkool in MP, vir n ander mynhuis. Dit is altyd hartseer en dit raak ons almal as myners wanneer daar n “fatal” sterfte gebeur. Ek weet hoeveel sit ons in om ons veiligheidstandaarde op te skerp omdat ek self in die “Safety & Risk Department” werk. Na ons ondergrondse brand en “fatal” verlede jaar het ek gereeld die vraag wat opkom in gesprekke… almal se altyd “as jou strepie getrek is dan is hy getrek” of “as dit jou tyd is dan is dit jou tyd” – maar wanneer n persoon sterf in n mynongeluk dan is die wereld vinnig om te reageer met “waar is die myn se veiligheidstandaarde” en en en…. so nou is my vraag dan ” was dit die persone se tyd, was hul strepies getrek?” of “is dit die myn se veiligheidstandaarde wat hul in die steek gelaat het? En vergeef my asb – maar die Liewe Vader se nie “Ek wag dat jy buite die mynhekke is of ondergronds uitkom dan sterf jy nie” Is dit nie waar nie? Dit is nie altyd die myn wat nie kyk na werkers nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.