Vier polisiebeamptes vas ná rooftog

(Argieffoto)

Vier polisiebeamptes van die grensbeheer-eenheid by die Kaapstadse internasionale lughawe is in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by ʼn sakeroof.

Die vier verdagtes, ʼn adjudant-offisier, twee sersante en ’n konstabel, is Sondag deur Milnerton-speurders in hegtenis geneem. Die verdagtes het Saterdag omstreeks 09:30 ʼn pakhuis by Montagu Gardens in Milnerton beroof. Hulle het glo van ʼn staatsvoertuig tydens die rooftog gebruik gemaak.

Die verdagtes het reeds in die Kaapstad-landdroshof verskyn en is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat. ʼn Departementele dissiplinêre proses is van stapel gestuur, terwyl die polisie die voorval ondersoek. Die verdagtes sal na verwagting weer op 27 Januarie in die hof verskyn.

Albert Fritz, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, het die inhegtenisneming van die vier polisielede verwelkom.

“Dit stuur ʼn sterk boodskap uit rakende kriminele gedrag in die polisiediens.”

Volgens Fritz het die voorval veral tot kommer onder Chinese besigheidseienaars gelei vanweë die betrokkenheid van polisiebeamptes by hierdie misdade. Die pakhuis wat beroof is, word deur Chinese besit.

“Ons het voorheen soortgelyke gevalle gehad waar Chinese sakemanne ontvoer is en vir ʼn losprys aangehou is.”

ʼn Sindikaat van agt lede, insluitend die vermeende meesterbrein, is onlangs in hegtenis geneem in verband met die ontvoering van vyf lede van die Chinese sakegemeenskap en een poging tot ontvoering. Die voorvalle het tussen Julie en November vanjaar plaasgevind.

Dié verdagtes se borgtogaansoek sal op 22 Januarie gehoor word.

Wes-Kaapse owerhede het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om sake van afpersing, of as hul al genader is om te betaal vir beskerming, anoniem by die polisie aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.