Vier sterf ná stormreën aan KZN-Suidkus

Swaar reënval wat Sondagaand aan die KwaZulu-Natalse Suidkus uitgesak het, het groot skade in die gebied, veral die Margate-omgewing, aangerig (Foto: Facebook)

Swaar reënval wat Sondagaand aan die KwaZulu-Natalse Suidkus uitgesak het, het groot skade in die gebied, veral die Margate-omgewing, aangerig.

Die swaar reën en oorstromings het paaie, ondernemings, kerke en huise beskadig en duisende is dakloos gelaat. Minstens vier mense is dood.

George Henderson, ʼn DA-wyksraadslid, sê dit het Sondagaand laat begin reën. Die swaar reën het in intensiteit toegeneem en dele van die gewilde kusdorpie onder water gelaat.

Henderson, wat ook die gemeenskappe van Uvongo, St Michael’s-on-Sea en Manaba bedien, sê Margate sit ook sonder krag nadat weerlig ʼn transformator getref het. Daar is reeds met die eerste fase van herstelwerk begin.

Die weerdiens het Maandag ʼn vlak 5-waarskuwing vir swaar reënbuie uitgereik.

Volgens Henderson is meer as 311 mm reën binne 24 uur aangeteken. Die reënweer sal na verwagting tot Maandagaand laat voortduur.

Die VF Plus het Maandag in ʼn skrywe aan die burgemeester van die Ray Nkonyeni-munisipaliteit, Zodwa Mzindle, geëis dat die munisipaliteit onmiddellik ʼn opname oor die omvang van die vloedskade in Margate doen.

Die opname moet gedoen word om die provinsiale rampbestuursentrum in staat te stel om ingevolge toepaslike wetgewing ʼn bystandsprogram in werking te stel vir geraakte inwoners en ondernemings.

Volgens Rochelle Robbetze, ʼn VF Plus-raadslid van die Ray Nkonyeni-munisipaliteit, is so ʼn opname noodsaaklik om die KwaZulu-Natalse provinsiale regering in staat te stel om vinnig en doeltreffend in te gryp en die gebied formeel tot rampgebied te verklaar sodat bystandsfondse ontsluit kan word.

“Die VF Plus sal die vordering van die voorgeskrewe prosesse monitor om te verseker dat die ANC-beheerde munisipaliteit en provinsiale regering nie weer voete sleep met die implementering van rampbystand nie,” sê Robbetze.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.