Vier mans is in die Mkhondo-omgewing (Piet Retief) in Mpumalanga aangekeer ná die dood van twee mans vroeër vandeesweek op ʼn plaas in die omgewing.
Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê volgens die polisie se inligting spruit die gebeure uit die aanvanklike beweerde ontvoering en aanranding van ʼn man. Ander inwoners in die gebied het daarvan te hore gekom en het die man probeer red.
“ʼn Skietery het glo uitgebreek en twee mense is doodgeskiet,” sê Mdhluli.
Volgens die polisie is die man wat vroeër na bewering ontvoer is, na ʼn hospitaal vir behandeling geneem.
Die vier mans wat glo by die twee se skietdood betrokke was, is in hegtenis geneem nadat die polisie ontbied is.
Die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, Vusi Shongwe, het die inhegtenisnemings verwelkom. Volgens Shongwe se weergawe van gebeure was die twee slagoffers wat doodgeskiet is deel van ʼn vreedsame betoging teen die beweerde misbruik van plaasbewoners op die Bampoen-plaas.
Die betrokke boer is glo een van die verdagtes wat weens die skietery aangekeer is.
Die LUR het die voorval ten sterkste veroordeel en sê dit is “hoog tyd dat plaaseienaars, ongeag hul velkleur, die regte van alle lede van die boerderygemeenskap respekteer”.
Shongwe sê ook mense het mekaar nodig en dat plaasbewoners eweneens die reg het om hul stemme te laat hoor wanneer hulle te na gekom voel.
“Ons Grondwet laat alle mense toe om hul misnoeë te kenne te gee oor enige kwessie wat hulle raak. Daar is niemand wat op ʼn betoging kan reageer deur ander dood te maak nie. Die polisie moet onverpoos werk om te verseker geregtigheid geskied,” sê Shongwe.
“Die land vier 27 jaar van demokrasie en ons wil hê alle gemeenskappe moet eensgesind saamleef, swart of wit.”
Die LUR sê boere moet die regte van hul werkers en plaasbewoners respekteer en dat die voorval verdere geweld kan veroorsaak. “Dit is hoekom die regering alles moontlik doen om te verseker daar is vrede, samehorigheid en bestendigheid in boerderygemeenskappe deur inisiatiewe soos die landelike veiligheidstrategie.
Hy het ook ʼn beroep vir kalmte in die omgewing gedoen terwyl die saak ondersoek word en het die departement van justisie gevra om weens die erns van die saak nie borgtog aan die vier toe te staan nie.
Mdhluli sê verdere aanklagte kan moontlik teen die vier aanhangig gemaak word. Hulle verskyn na verwagting Maandag in die Piet Retief-landdroshof.
Dis nie Bampeon nie maar Pampeon
Pampeon of Pampoen?
Wat verwag n mense
Vreedsame betoging? Dis n eerste……
Vreedsame betoging? Ek twyfel egter of hulle regtig vreedsaam kan betoog…
Maar die boere het geen regte nie ? Voetsek weg .
As ons ons misnoë uitspreek oor die moord op ons mense en ons stemme daaroor laat hoor, word ons bestempel as terroriste.
Maar wat kan ons verwag vanaf ‘n regime en polisie mag wat rasisties optree teenoor minderhede en besluite maak volgens iemand se velkleur.
Gaan aan, julle gat raak al hoe groter…
“Die land vier 27 jaar van demokrasie en ons wil hê alle gemeenskappe moet eensgesind saamleef, swart of wit.” Wat n grap? Regering bevorder presies die teenoorgestelde. Nog n ding, vreedsame betoging? Asseblief!
Ek geniet dit baie om Maroelamedia elke dag te lees.
Maar wraggies hierdie berig is so ver vd waarheid af. Asb verslaggewers julle plaas lewens op di spel met leuens en sensasie. Julle het tog ‘n verantwoordelikheid om eers die waarheid uit te vind voordat so n verslag geplaas word. Siesa ek kry skaam vir julle vandag.Dit laat my ook wonder of ander berigte waar is?
Wat is die waarheid, ons wil ook weet…
Annelize gee die korrekte feite,want jy WEET beter.
Mense spring sommer dadelik op die oordeel wa ….sommer is die boer klaar skuldig
Julle het nie julle feite reg nie. Julle is veronderstel om leuns te versprei nie.????????
Wat is die feite? Lig ons ook in…
Klink baie verdag wat gaan daar by julle aan Liana?