Vier vas vir Heilbron-boer se moord

Petrus Steyn by sy vrou, Annette, en hul kinders Tiané (links), Claudine en Paul. (Foto: Facebook)

Vier verdagtes is Woensdag in verband met die moord op Petrus Steyn (51) wat in die Heilbron-distrik in die Vrystaat geboer het, in hegtenis geneem.

Twee van die verdagtes het glo op die plaas gewoon en gewerk.

Maroela Media het vroeër berig dat Steyn se liggaam op 30 September op sy plaas Holfontein tussen Heilbron en Frankfort ontdek is.

Steyn, sy vrou, Annette, en hul drie kinders sou binnekort van Heidelberg na dié plaas verhuis het.

Steyn het kopbeserings opgedoen nadat hy met ʼn skerp voorwerp aangeval is. Sy rewolwer is vermoedelik ook uit sy besit gesteel.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media bevestig dat die verdagtes – drie mans (onderskeidelik 27, 33 en 51) en ’n vrou (48) – deur lede van die polisie en Valke in die Vrystaat in hegtenis geneem is.

Die vrou en 51-jarige man het glo op die plaas gewoon en gewerk, terwyl die ander twee verdagtes in Frankfort woon.

“Die inhegtenisnemings volg op inligting deur lede van die gemeenskap aan die Heilbron-polisie.

“Die vier verdagtes sal van moord aangekla word en Vrydag in die Heilbron-landdroshof verskyn.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.