Vier weermaglede wéér in hegtenis ná voorval by myn

(Argieffoto)

Vier weermaglede wat in Augustus vanjaar vlugtig aangehou en toe weer vrygelaat is vir vermeende sameswering om ʼn misdaad te pleeg, asook bedrog en betreding, is weer in hegtenis geneem. Hulle is by ʼn onwettige mynbrandpunt by die Kudu-skag, naby Welkom in die Vrystaat, betrap.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het gesê die vier beskuldigdes is op 6 Julie vanjaar by die private myn betrap, maar weens ʼn gebrek aan bewyse vrygelaat.

Die Valke het die ondersoek steeds voortgesit en die vier is Vrydag wéér in hegtenis geneem.

Die ondersoek tot dusver het gewys die groep was tydens die beweerde oortredings geklee in volle weermaguniform en veronderstel om in daardie stadium by hul basisse in onderskeidelik Pretoria en Kroonstad te wees.

Ramovha het gesê wat veral agterdog gewek het, was dat een van die weermaglede sy private vuurwapen by hom gehad het en dat hulle ʼn private voertuig gebruik het waarop hulle nommerplate van die weermag vasgemaak het. Die lisensieskyf is verwyder.

Die vier is vroeër vandag by hul basisse aangekeer. Hulle verskyn na verwagting Maandag in die Welkom-landdros.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rose ·

Dit is n jammerte dat sekeres die uniform so skade doen. Waar is die dae toe dit nog n eer was om n polisie, weermag of vloot uniform te dra.

Hennie J ·

Kyk gerus na die eerste arrestasie en vind dat daar nou bes moontlik n ander ondersoekbeampte is. Iemand se tjommie is nie meer nie.

christo ·

Vandat die SAW die SANW geword het en daar pajamas gedra word en nie meer netjiese ‘browns’ nie het weermag ‘n sirkus geword. Daar is ook nie detensiebarakke nie en die Militêre Polisie se hande is afgekap. Hulle behoort mos aan ‘n ‘unie ‘. Professionele soldate is veronderstel om professioneel te wees, maar SAW dienspligtiges was baie meer professioneel as die wat nou veronderstel is om die land te beskerm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.