Virgin reik na die sterre met kommersiële ruimtevlugte

Skermgreep uit die video (Video: Virgin Galactic)

Virgin Galactic het Donderdag amptelik met kommersiële ruimtevlugte begin – ʼn groot mylpaal vir die maatskappy wat in 2004 deur Britse miljardêr Richard Branson op die been gebring is.

Die Galactic 01, ʼn 90 minuut lange sending, het om 08:30 (1430 GMT) van Spaceport America, Nieu-Mexiko vertrek.

Virgin Galactic het ook ʼn regstreekse uitsending beskikbaar gemaak van die vlug.

Anders as sy mededingers, maak Virgin Galactic van ʼn “moederskip”-vliegtuig gebruik wat van ʼn aanloopbaan gelanseer word, ʼn hoë hoogte bereik en dan ʼn vuurpylaangedrewe vliegtuig laat val wat teen byna Mach 3 in die ruimte in trek voor dit na die Aarde terugsweef.

Passasiers in die ruimtevliegtuig se kajuit ervaar ʼn paar minute van gewigloosheid en kan die planeet se kromming van meer as 80 km bo seevlak aanskou.

Op Donderdag se vlug was kol. Walter Villadei en lt.kol. Angelo Landolfi van die Italiaanse Lugmag; Pantaleone Carlucci van die Nasionale Navorsingsraad van Italië en Colin Bennett van Virgin Galactic.

Daar was ook twee vlieëniers in die ruimtevliegtuig.

“Welkom in die ruimte, ruimtevaarders,” het Virgin Galactic se Sirisha Bandla gesê. Die bemanning het hul nasionale vlag geswaai toe hulle die paar minute van gewigloosheid ervaar het.

Dit volg byna twee jaar ná Branson in ʼn toetsvlug die buitenste ruim bereik het om ʼn nuwe era van winsgewende ruimtetoerisme in te lui.

Die maatskappy het egter ʼn paar terugslae beleef insluitend ʼn kort periode waar die Federale Lugvaartadministrasie (FAA) sy vlerke geknip het toe Branson se vlug afgewyk het van bepaalde lugruimte en Virgin Galactic nie die “fout” soos vereis word aangemeld het nie.

Laboratoriumtoetse het later onthul dat sekere materiale wat in die voertuie gebruik word, ook nie aan vereiste sterktestandaarde voldoen nie en die vloot moes opgegradeer word.

Die maatskappy het in Mei egter ʼn suksesvolle toetsvlug afgehandel en die weg gebaan vir Donderdag se sending. Vyf toetsvlugte is voor Donderdag se kommersiële vlug onderneem.

Die Galactic 01-bemanning sal 13 eksperimente (onder toesig en outonoom) afhandel en data van hul oorpakke en sensors in die kajuit insamel.

Virgin Galactic het ongeveer 800 kaartjies vir toekomstige kommersiële vlugte verkoop – 600 tussen 2005 en 2014 teen tussen $200 000 en $250 000 en sedertdien ʼn verdere 200 teen $450 000 elk.

Filmsterre en bekendes was die eerste om die sitplekke op te raap, maar die maatskappy se program het ʼn ramp in 2014 beleef toe ʼn ruimtevliegtuig op ʼn toetsvlug in twee geskeur het. Die medevlieënier is oorlede en die vlieënier het ernstige beserings opgedoen.

Virgin Galactic ding mee in die ruimtetoerismebedryf teen miljardêr Jeff Bezos se Blue Origin-maatskappy. Hy het reeds 32 mense ruimte toe gestuur. Sedert ʼn ongeluk in September 2022, tydens ʼn onbemande vlug, is Blue Origin se vuurpyl se vlerke ook geknip. Die maatskappy het in Maart belowe hulle sal binnekort hul ruimtevlugte voortsit.

Watch Galactic 01 Spaceflight LIVE on June 29

We're entering a new space age, propelled by curiosity. Watch what's in store for our #Galactic01 scientific research mission, crewed by experts from Aeronautica Militare & CNR Consiglio Nazionale delle Ricerche. Don't miss the livestream TOMORROW at 9:00 am MDT | 11:00 am EDT: www.virgingalactic.com

Posted by Virgin Galactic on Wednesday, June 28, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Vonkprop ·

Ai, leer die mense nie. As jy die ruimte wil sien gaan kyk dit op Youtube of gaan na ‘n planetarium. Mense het geld om te mors.

JvR ·

Ek stem. Die CGI is baie beter daar. En jy is verseker jy gaan lewendig daaruit kom.

Chris ·

Die mens is seker die mees onvergenoegde skepsel wat op dees aarde is. Die mens leer ook nie. So pas is die “duikboot’ ekspedisie vernietig. Gelukkig is die oorskot van die mense gekry. As jy in die ruimte gaan verdwaal en iets gebeur met jou tuig moet hulle dele van jou op mars venus en waar ook al gaan soek. Gelukkig is ek die stadium verby van krap waar dit nie jeuk nie. Daar is in elk geval nog te veel goed op aarde waarvan ek nie van weet nie. So ek sal myself maar hier besig hou.

KatjieDeKat ·

Al was ek n biljoenêr, nee dankie. Ek het niks verloor myle onder die see of myle op in die buitenste ruim nie. Maar nou ja, die wat wil, moet maar hul kanse vat.

Johan Tredoux ·

Hulle moet middelklas mense vat sodat hulle kan bevestig of die aarde plat of rond is! ;-)

JvR ·

Dit is waar natural selection inkom. Waar selfs die verloorders n prys wen. Darwin awards

André ·

ʼn Kaartjie op Galactic 01 sal ‘n goeie 1ste prys wees vir ‘n kompetisie vir Plataarders om die rand van die aarde te vind en ‘n selfie te neem.

JvR ·

Op hierdie stadium dink ek nie die aarde is plat of rond, maar n roller coaster.

Sandra ·

Nee dankie. Niks daar bo soek wat ek hier onder verloor het nie. Ek sien hulle noem curiosity in die video. Weet hulle wat curiosity aan die kat gedoen het. Ryk mense en hul geld. Mens sou dink dat mense sal leer uit die Titan, maar dit lyk nie so nie.

hpven ·

Baanbrekers. Dit is waarom hulle ryk is, hulle was bereid om kanse te waag wat ander nie wou doen.
Sulke mense gee die pas vir almal se toekoms aan. Alles in die lewe is ‘n risiko, van die oomblik wat jy opstaan, self as jy gaan slaap. Jy leef jou lewe sonder enige waarborge!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.