Justin Erasmus, plaaslike stasiebevelvoerder van die nasionale seereddingsinstituut (NSRI), het gesê ʼn reddingspan is omstreeks 05:00 ontbied nadat die man glo van ʼn vissersboot afgeval het wat drie seemyle van die hawe geanker was.
ʼn Reddingsboot, Eikos Rescuer IV, is gestuur en ʼn polisiehelikopter het ook met die soektog gehelp. Teen Sondagmiddag was daar egter steeds geen teken van die vermiste visserman nie. “Die polisie het ʼn ondersoek geopen en lede van die polisie se duikeenheid sal voortgaan met die soektog,” het Erasmus gesê.
“Dit wil voorkom asof die visserman om onbekende redes oorboord geval het sonder ʼn reddingsbaadjie aan. Alle reddingsbaadjies op die chokka-vissersboot is steeds aan boord,” het hy gesê. “Bemanningslede het in die vroeë oggendure agtergekom die visserman word vermis en het alarm gemaak.”