Visserman verdwyn in onstuimige see

(Argieffoto: NSRI)

ʼn Visserman word vermis nadat hy naby Heroldsbaai deur golwe van die rotse afgeslaan is. Verskeie reddingspanne van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), die polisie en Wes-Kaapse nooddienste het teen Saterdag laatmiddag nog na die man gesoek.

Volgens ʼn woordvoerder van die NSRI is hulle Wildernis-span teen ongeveer 14:50 geaktiveer toe hulle inligting ontvang het oor ʼn volwasse man wat deur golwe van die rotse naby die Gwaing-riviermond afgeslaan is.

Personeel van die Wes-Kaapse nooddienste, swemmers van die NSRI, sowel as George se brand- en reddingsdienste het by die polisie op die toneel aangesluit. ʼn Vaartuig van NSRI Mosselbaai, wat opleiding in die omgewing gedoen het, is ook aangewend om te help met die soektog.

“By die lede se aankoms op die toneel was die see baie onstuimig en die kuslyn moeilik begaanbaar. Nietemin is ʼn soektog van stapel gestuur.”

Daar was egter geen teken van die man van Pacaltsdorp in George nie en die polisie se duikeenheid is ingeroep om verder te help met die soektog.

“Drie bote van die NSRI se Wildernis-tak het Sondagoggend by die polisie se duikeenheid aangesluit om te help soek. Die soektog duur voort.

“Ons gedagtes is by die vermiste man se vriende en familie in hierdie moeilike tyd.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.