Die polisie in Port Elizabeth in die Oos-Kaap ondersoek verskeie sakerooftogte wat onlangs in dié kusstad voorgekom het.
Een van die rooftogte het Woensdag in Missionvale afgespeel toe die rowers hul slagoffers in die kop en rug gesteek het.
AO Alwin Labans, polisiewoordvoerder, het gesê ʼn winkeleienaar en ʼn assistent was op die betrokke dag in die spaza-winkel toe vier gewapende rowers toegeslaan het. Volgens Labans het een van die rowers ’n vuurwapen gehad terwyl die ander messe by hulle gehad het: “Hulle het [die eienaar en assistent] beveel om op die grond te lê en geld van hulle geëis. Hulle het kontant uit die kasregister en twee selfone gevat.”
Die twee slagoffers is ernstig aangerand voordat die rowers te voet op die vlug geslaan het. Volgens Labans is die slagoffers met steekwonde aan hul rûe en koppe na die naaste hospitaal geneem. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die Southender-kroeg in Humewood het ook deurgeloop toe ʼn gewapende rower Woensdagaand die kroeg beroof het.
ʼn Voorlopige ondersoek toon die verdagte het sy vuurwapen op ʼn 22-jarige man in die kroeg gerig en op kontant aangedring, sê Labans. Kontant uit die kasregister is in ʼn sak aan hom oorhandig waarna die rower laat spaander het.
Labans het enige iemand met inligting rakende dié voorvalle versoek om die polisie te kontak.