Vleislorrie in Paarl gekaap

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

ʼn Vragmotorbestuurder wat vleis in die Wes-Kaap aflewer se roete is Woensdag omvergewerp nadat drie gewapende mans sy vragmotor omsingel en beroof het. Die beweerde kapers het egter nie eens ʼn stukkie vleis uit die vragmotor gebuit nie.

Sers. Dawood Suliman, polisiewoordvoerder, sê die vragmotor is Woensdag om 14:20 deur drie gewapende mans in Mbekweni, Paarl, gekaap.

“Die verdagtes het die insittendes van die vragmotor opdrag gegee om hul selfone en kontant aan hulle te oorhandig,” sê hy.

“Die mans het toe ʼn kluis wat in die vragmotor is, uitgebreek voordat hulle in ʼn wit Volkswagen Polo van die toneel gevlug het.”

Geen vleis is tydens die rooftog gebuit nie.

Die vragmotorbestuurder het egter die verdagtes agternagesit en polisiebeamptes, wat in die gebied gepatrolleer het, se aandag met behulp van handgebare getrek.

Die beamptes het die verdagtes agternagesit, maar die mans het kort daarna gestop, uit die motor gespring en te voet verder gevlug.

“Die polisiebeamptes en die honde-eenheid het daarin geslaag om die drie mans vas te trek en in hegtenis te neem.”

Volgens Suliman het die polisie op twee vuurwapens en die gesteelde kluis beslag gelê. Dit het verder aan die lig gekom dat die motor wat die verdagtes gebruik het om die vragmotor aan te keer, voorheen in die gebied gekaap is.

Die verdagtes, almal tussen 28 en 41 jaar oud, sal eersdaags in die Paarl-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met kaping en die besit van onwettige vuurwapens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marisa ·

Kersfees is om die draai – die tipe goed gaan nou teen n helse spoed gebeur!!

Botterblommetjie ·

Hulle het nou wel die moordenaar in Bloemfontein vasgetrek, met behulp van die publiek (sy foto op fb en whatsapp groepe versprei) anders was hy seker nogsteeds los, en hier weer het die trokdrywer die aandag van die polisie getrek (moet sê dit wil gedoen wees)…. maar wat van al die ander sake wat nie deur die publiek opgelos word nie… Wat my verstand ten bowe gaan, wil die politici nie ook veilig wees nie, daar soveel ANC en Polisie al doodgeskied (vermoor)… Wil almal nie in ‘n veilige land woon en weet jou familie, vriende, kollegas ens. in veilig nie… Wil jy nie in vrede woon en werk nie. Mens hoef nie saam te stem met mekaar nie, maar mekaar verdra. Jy ry nou wel ”n duur kar, drink duur drank en koop trollies vol soos jy wil, en word gehijack oppad huis toe en dalk noodlottig gewond. Wat het jy van al jou mag en plesier…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.