‘Vlieg met nuwe vlerke,’ sê sus ná vlieënier se dood

Justin van As (Foto: Lizelle Joubert/Facebook)

“Gister het jou passie, jou droom, jou finaal weggevat. Jou lewe is volbring. Jou tyd op aarde het jy gedien.”

Só skryf Lizelle Joubert in ʼn hartroerende boodskap nadat haar broer, Justin van As (49), Woensdag in ʼn vliegtuigongeluk in Mpumalanga omgekom het.

Van As was ʼn brandbestrydingsvlieënier verbonde aan Kishugu Aviation in Mbombela.

Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) ondersoek die ongeluk. Sisa Majola, woordvoerder van die BLO, sê die ongeluk het om 16:40 plaasgevind.

“Die Air Tractor 802-vastevlerkvliegtuig het by die Nelspruit-lughawe opgestyg vir ʼn lugbrandbestrydingsoperasie by die Sappi-plantasie op Nooitgedacht. Die vliegtuig sou ná die operasie na die lughawe terugkeer,” sê Majola.

Van As het egter nie teruggekeer nie en die voorval is by die BLO aangemeld.

“Die vlieënier het noodlottige beserings opgedoen en die vliegtuig is vernietig deur die brand wat weens die impak van die ongeluk uitgebreek het.”

Ondersoekers van die BLO het die ongelukstoneel gefynkam vir bewysstukke om in die ondersoek na die voorval te help.

’n Voorlopige verslag oor die ongeluk sal binne 30 dae bekendgemaak word.

Joubert skryf intussen sy vind vertroosting omdat haar broer nou “op die beste plek ooit is”.

“Jy dans saam met dié wat voor jou in die plek van die Allerhoogste gekom het.  My pilot-boetie, vlieg met jou nuwe vlerke.”

Joubert en Van As se jonger broer is drie maande gelede oorlede.

“Vir ons as familie wat agterbly, is dit baie, baie seer. Ons bly in God geanker en vra dat die Heilige Gees ons sal vertroos.”

Linton Rensburg van Kishugu Aviation het Van As as ʼn “ware heer” beskryf wat “toegewyd was om lewens te red en die omgewing te beskerm”.

Rensburg het ook sy medelye met Van As se familie en vriende betuig en sê Kishugu Aviation het beradingsdienste vir Van As se familie en kollegas beskikbaar gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hendrik ·

My innige simpatie met naasbstaandes en vriende.
Een saak waaroor ek telkens dankbaar is, is dat in die kommentare gereeld die getuienis van ware christenskap verneem.!!!!

Skappie ·

Baie sterkte aan die res van sy familie. Niemand wil 2 kinders in 3 maande aan die dood afstaan nie. Mag onse Liewe Heer julle styf in Sy arms vashou en julle deur hierdie moeilike tyd wat nou voorle dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.